

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2015
Die besluit deur die Hooggeregshof om die moratorium op die binnelandse handel in renosterhorings op te hef, kan verreikende (verrykende?) gevolge inhou vir plaaslike renosterboere.
‘n Volbank regters het verlede Donderdag die jarelange moratorium tersyde gestel, nadat Johan Kruger en John Hume ‘n aansoek gebring het daartoe. Die hof het ook gelas dat Kruger en Hume se regsonkostes vir die minister se rekening is.
Die Zoutpansberger kon daarin slaag om ‘n afskrif van die uitspraak te bekom.
Kruger boer met renosters en ander skaars wildsoorte in die Alldays-omgewing. Hume, wat van Malalane is, is daarvoor bekend dat hy die wêreld se grootste renosterteler is.
Kruger het oorspronklik die aansoek alleen gebring in 2013. Hume het hom verlede jaar geskaar by die aansoek. In sy verklaring het Hume verduidelik dat die moratorium nog altyd ‘n negatiewe impak gehad het op die oorlewing van die renoster en dat renostertelers en –eienaars as gevolg daarvan net wettiglik geld kon maak uit renosters deur hulle diere dood te maak.
Hume het verder geargumenteer dat die moratorium ongrondwetlik is en nie net inbreuk maak op sy konstitusionele reg tot ‘n eie besigheid nie, maar ook indruis teen die gedagte van volhoubare benutting.
Regters Francis Legodi, Vivian Tlhapi en Myton Dewrance het gesê die moratorium moet tersyde gestel word, omdat die regering nie behoorlik samesprekings met die publiek daaroor gevoer het voordat dit ingestel is nie.
Die moratorium is in Februarie 2009 deur die destydse minister van omgewingsake, mnr. Marthinus van Schalkwyk, ingestel. Intussen het ses jaar verloop, en volgens regter Legodi is dit nie net onregverdig nie, maar ook ongrondwetlik.
Hy het verder gesê dat daar heelwat wetlike regulasies was wat nie nagekom is in die publieke konsultasieproses met die aanloop tot die instelling van die moratorium nie. Die voorneme om die moratorium te implementeer is byvoorbeeld in die Staatskoerant gepubliseer maar, het Legodi bevind, was vaag. Verder het die regter ook bevind dat dié voorneme nie goed geadverteer is in die nasionale media nie, en dat die publiek nie genoegsame tyd gegun is om toe hulle griewe te lug nie.
In die uitspraak het regter Legodi ook gesê dat die minister se advokate kapsie aangeteken het en gesê het dat die onmiddellike opheffing van die moratorium renosterstropery dramaties sal laat toeneem.
Renosterhoring sal nou nie net by sindikate uitkom nie, maar ook op die internasionale mark, wat ‘n oortreding sal wees van die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) wat ‘n verbod plaas op die uit- en invoer van renosterhoring. Nie net onderskryf Suid-Afrika die CITES-regulasies nie, maar sal ook vroeg volgende jaar gasheer speel vir die internasionale samesprekings.
Die regters het nie saamgestem met die minister se redenasie nie. In hulle uitspraak sê hulle die moratorium was nooit bedoel om permanent te wees nie. “Die woord ‘moratorium’ beteken juis dit,” lees die uitspraak.
Verder het Legodi gesê dat selfs die minister toegegee het dat die moratorium nie gehelp het om renosterstropery te verminder nie. “Die toename in renosterstropery sedert die moratorium is nogal kommerwekkend,” het Legodi gesê.
Voor die konsultasieproses vir die moratorium in 2008, is daar minder as 100 renosters onwettig doodgemaak. “Persentasiesyfers kan nie gekoppel word aan die moratorium nie, maar dit is duidelik dat dit ‘n beduidende rol gespeel het in die toename van renosterstropery,” het Legodi bygevoeg. Hy was van die mening dat daar nie enige rampspoedige implikasies sal wees as die moratorium dadelik opgehef word nie.
Intussen het Legodi se uitspraak gemengde reaksie ontlok.
Die Zoutpansberger het voelers uitgesteek na plaaslike renostereienaars, wat maar huiwerig was om te vinnig kommentaar te lewer. Niemand wou op rekord kom nie, uit vrees dat hulle deur stropers geteiken sal word.
Telers was in die algemeen bly oor die uitspraak, en meen dit sal bewaring van die renoster aanmoedig. Die oorwegende mening is dat telers se stapels renosterhorings nou ‘n kosbare kommoditeit gaan word, wat dit die moeite sal maak om met renosters te “boer.”
Die situasie, onder die moratorium, het telers se beursies getap. Hume moes byvoorbeeld veiligheidsmaatreëls verskerp om nie net sy ge-oeste renosterhorings te beskerm nie, maar ook sy kudde van meer as 1000 renosters. Daar is namens hom in die hof aangevoer dat hy meer as R5 miljoen per maand betaal aan sekuriteit en dat dit nou onbekostigbaar duur word vir hom.
Telers en eienaars hou nou saam met Hume asem op om te sien of me. Edna Molewa, die Minister van Water- en Omgewingsake, Legodi se hofbevel gaan teëstaan. Molewa het Donderdag in ‘n persverklaring gesê sy gaan teen die hof se tersydestelling van die moratorium appelleer.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
