

ADVERTISEMENT:

Die 67-jarige mnr. Hennie van Rensburg, afgeneem op die kaste bier waarop twee gewapende rowers sy vrou, Rita, verlede Vrydag geforseer het om te sit terwyl hulle die egpaar se drankwinkel beroof het. Dit was die negende rooftog by besighede in Louis Trichardt vir November.
News Date: 07 December 2015
“Die mense moet besef dit is anargie wat op die oomblik in hierdie dorp plaasvind. As jy vat, dit was Pitstop wat die vorige week aangeval is. Gewoonlik gaan lê hulle [die rowers] dan bietjie laag. Maar dit is nie wat hier gebeur nie. Ek is seker môre oormôre gaan hulle weer roof...”
Dié woorde van waarskuwing kom van mnr. Hennie van Rensburg (67) wat Dinsdag met die Zoutpansberger gepraat het oor die gewapende roof by hul besigheid, LiquorZone, in Louis Trichardt verlede Vrydagaand. Dit was die negende gewapende rooftog in die dorp vir November.
“Die manier wat hulle net instap en die manier waarop hulle met jou praat … hulle gee net nie ‘n hel om nie!” sê Hennie.
Die rooftog het Vrydag ongeveer 19:30 plaasgevind. Hennie se vrou, Rita (63), was nog besig om ‘n kliënt te help, toe sy opmerk twee mans skuif die winkeldeure toe. Toe sy opkyk, staan daar twee gemaskerde mans, albei gewapen met pistole, voor haar. Hulle het nie ‘n dooie woord gepraat nie en met die pistole gewys dat Rita, die kliënt en een van die winkelpersoneel op die grond moet gaan lê. “Rita het toe vir hulle gesê sy kan weens haar artritis nie op die grond gaan lê nie … hulle het toe vir haar toegelaat om op ‘n paar kaste bier op die winkelvloer te gaan sit,” vertel Hennie.
Die kliënt en hul personeellid het in daardie stadium op hul mae voor die toonbank op die vloer gelê. 'n Wyle later het hul personeellid probeer opkyk om te sien wat aangaan. Dit was ‘n besluit wat hy sou berou. “Toe skop hulle hom in die gesig – die hele wêreld was vol bloed gewees,” sê Hennie.
Die twee mans het hulself gehelp aan die kontant in die kasregister, sigarette, 'n paar bottels drank, oom Hennie se rewolwer, asook tannie Rita se selfoon en rekenaartablet. “Toe sê hulle vir Rita sy moet na die agterkant van die winkel gaan, want hulle was seker bang sy gaan alarm maak. Sy sê sy het haar morsdood geskrik en heeltemal gevries,” sê Hennie. Met dié dat Rita agtertoe gestap het, het die twee mans by die deur uitgeglip.
Hennie was tydens die rooftog nie by die winkel nie, alhoewel hy en Rita altyd saam werk. “Ek is so 19:15 gou by die winkel uit om huis toe te gaan.” Hy sê hy is seker daarvan dat die rowers toe al vir ‘n geruime tyd die winkel dopgehou en hul kans afgewag het. Toe hy omstreeks 19:45 terugkom om toe te sluit, is hy begroet deur ‘n magdom dorpswaglede. Verward het hy nader gestap en vir Rita, wat buite op die winkelstoep gestaan het, gevra waarom die winkel se deur halfpad toe is? “Ek het vir haar gevra wat aangaan? Sy sê toe dat sy beroof is en my reaksie daarop was: 'Jy maak seker ‘n grap!?'” sê Hennie. Intussen het die polisie op die toneel aangekom en die realiteit van wat gebeur het, het by Hennie begin insink.
“Jy voel magteloos ná dit wat met jou gebeur het,” sê Hennie. Hy is hartseer oor die trauma wat die voorval sy vrou besorg het. “Sy was in ‘n erge toestand van skok. Sy het vir my gesê daar was ‘n kalmte oor haar, maar ek weet dit was die skok. Gelukkig het sy gevries, want as sy geskreeu het, is ek seker hulle sou haar geskiet het. Sy het daar gesit en nie ‘n woord gesê nie en toe hulle haar agtertoe vat, het sy gedink hulle gaan haar nou doodskiet,” sê Hennie.
Rita moes hospitaal toe geneem word om haar te behandel vir skok. Dae ná die voorval herleef sy steeds die nagmerrie. “Ek het vir haar gesê sy moet gaan vir berading, maar sy sê sy voel oraait. Maar sy raak net erger en erger ... Sy slaap nie meer nie en wil nie eers meer alleen by die huis bly nie. Sy bly nou hier tot ek in die aand huis toe gaan,” sê Hennie.
Dit wat met sy vrou gebeur het, laat Hennie woedend. Hy is egter baie dankbaar sy leef en sê dinge kon dalk heel anders uitgedraai het as hy daar was. “Die ding is - ‘n man soos ek voel jy is ontman. Hoe beskerm jy jouself in so ‘n geval!? Sê nou maar ek was hier? Ek as man sou opgetree het – dan was ons almal dalk dood, dit kan ek jou ‘n brief gee. Ek sal nie gaan stilsit nie. As man is jou eerste gedagte: Hel, wie dink hulle is hulle!? Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor die prinsiep,” sê Hennie.
Intussen probeer Hennie maar hul besigheid se deure oophou, maar weens die erge misdaadvlaag is dit maar moeilik. “Dit is totale anargie; daar is nie ‘n ander woord daarvoor nie. Rita sê gister [Maandag] sy wou my kom help, sodat ek ook bietjie kan rus, maar sy is doodeenvoudig net te bang. Dit is hoe dinge nou gaan in die dorp,” sê Hennie. Hierdie “vrees” is ook te bespeur by ander besigheidseienaars – selfs by hul kliënte. Hennie sê sy kliënte “kuier” nie meer nie. “Die mense kom in en koop om so gou as moontlik weg te kom, want hulle is bang. Netnou word hulle in ‘n rooftog vasgevang,” sê Hennie.
Hennie het inwoners gewaarsku om die gedagte van “‘Ag wat, dit is nie my probleem nie. Dit is maar iets wat gebeur het!” uit hul koppe te kry. Hy sê baie mense is onder die indruk dat net besighede, veral drankwinkels, tans geteiken word. Maar, sê hy, almal – self mense by hul huise – is tans teikens. Die dorp se onlangse misdaadstatistieke is bewys hiervan. “Dit gaan nie net meer oor drankwinkels [wat beroof word] nie. Dit gaan oor geld … en die ding is, jy het geen kans teen hulle nie. Hulle modus operandi is al asof hulle opleiding gehad het … Ek sal jou sê, as dit aangaan soos dit nou aangaan in hierdie dorp, gaan hulle die winkels begin stukkend gooi, orals begin inbreek – hulle gaan maak net wat hulle wil!” sê Hennie en voeg by dat die polisie gerus kan meer doen om inwoners se veiligheid te verseker.
Hennie sê die enigste manier waarop hierdie aanslag op die gemeenskap afgeweer kan word, is as die totale gemeenskap daadwerklik begin saamstaan. “Die hele gemeenskap sal moet begin om mekaar te help,” sê hy.
Die polisie is hierdie week gevra om te reageer op die vlaag geweldsmisdade sedert September en die gebrek aan arrestasies in sake soos die string gewapende rooftogte en ook die moorde op mev. Maggie Castleman (48), Mr Jonas Sirovheli (24) en Johan Oelofse (42) in September en Oktober vanjaar. Vanaf provinsiale vlak het die polisie versoek dat die navraag volgende week beantwoord sal word, aangesien hulle tans besig is met ‘n herstrukturering van die streek se top polisiestruktuur, na aanleiding van die huidige wettelose toestand in die streek.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
