ADVERTISEMENT:

 

Wyle Bernard Wolmarans, wat verlede week in Amerika in ‘n motorongeluk oorlede is.

Tragedie tref weer Wolmarans-familie

 

News  Date: 12 August 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Plaaslike familie wat skaars vyf weke gelede van ‘n tweede jong seun op tragiese wyse moes afskeid neem, is vandeesweek besig met die finale reëlings vir die begrafnis van nog een van hul seuns.

Die 23-jarige Bernard Wolmarans, seun van Frik en Anita Wolmarans, is verlede Woensdag in ‘n motorongeluk in Amerika oorlede.

Dié skoknuus volg op die dood van sy een neef Coen, seun van Coen en Sonja Wolmarans, wat sowat vyf weke gelede in ‘n motorongeluk gesterf het. Sy ander neef, Arnold, nog ‘n seun van Coen en Sonja, het bykans drie jaar gelede tragies verdrink.

Bernard, wat vanjaar op 16 September 24 jaar oud sou word, was ‘n oudleerling van die Laerskool Soutpansberg en die Hanglip Akademie en het aan die Potgietersrus Kollege gematrikuleer. Hy het aanvanklik in Engeland gaan werk. Na sy terugkeer na Suid-Afrika, het hy in November verlede jaar na Amerika vertrek, waar hy saam met talle jong Suid-Afrikaners op die lemoenplaas van oud-Suid-Afrikaner Tom Visser gaan werk het. Na afloop van die lemoenseisoen, het die meeste van sy vriende teruggekeer. Bernard het egter by Barend Jones, nog ‘n Suid-Arikaner, in Missouri in Amerika grondverskuiwingswerk gaan doen by die dorp Schell City.

“Hy wou nog ‘n bietjie ekstra verdien voordat hy vandeesmaand op die agtiende sou terugvlieg om by ons te kom kuier. Hy sou op 20 Augustus in Johannesburg land,” het Frik vandeesweek gesê.

Frik en Anita het die tyding van die noodlottige ongeluk vroeg Donderdagoggend ontvang. Die motorongeluk het Woensdagnag net na nege uur op ‘n skerp draai plaasgevind. Bernard is in die ongeluk op slag dood.

“Daar is fondse beskikbaar en hy sal hier begrawe word. Die finale reëlings is egter nog onseker,” het mnr. Wolmarans gesê.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines