ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Kry papierwerk reg voor vertrek

 

News  Date: 10 December 2015

 

Inwoners wat dalk beplan om oor die Kersseisoen op vakansie te gaan in ons buurlande, moet seker maak hulle neem al die regte dokumente vir hul motor saam.

Indien nie, staan hulle die kans om toestemming geweier te word om die grens oor te steek. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het verlede week dié aankondiging gemaak.

Daar is reeds wetgewing afgekondig wat voertuigeienaars verplig om hul registrasievorms (groen eNatis-dokumente) saam met hulle te neem as hulle deur ‘n grenspos gaan. Hierdie wetgewing, sê die polisie, word in sommige gevalle nie streng deur doeanebeamptes toegepas nie.

“Vanjaar gaan ons daarop konsentreer om toe te sien dat alle voertuie wel aan die wetgewing voldoen,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, in ‘n persverklaring gesê.

Die strenger maatreëls word hoofsaaklik afgedwing om te verhoed dat gesteelde voertuie deur die grensposte gesmokkel word. Volgens Naidoo gaan die kleiner grensposte na Botswana ook strenger gemonitor word.

Motoreienaars van Suid-Afrikaans-geregistreerde voertuie moet nie net ‘n afskrif van die voertuig se registrasiedokumente byderhand hê nie, maar wel ‘n afskrif wat deur die polisie beëdig is. Hierdie reël sal ook geld vir sleepwaentjies.

Indien ‘n motor nog onder ‘n bank se finansiering staan, moet die eienaar ook ‘n brief van die bank saamneem wat bevestig dat dit wel landuit geneem mag word. Absa en FNB se webblad dui aan dat hulle gewoonlik binne minute dié dokumente aan hulle kliënte kan uitreik indien dit telefonies versoek word. Wesbank-kliënte kan die dokumente aanlyn invul.

Alle kliënte moet egter eers aan hul bank kan bewys dat hul voertuig verseker is vir buitelandse gebruik. Eienaars kan dié bewys by hul makelaars kry en by die bank inhandig.

As die bestuurder van die voertuig nie die geregistreerde eienaar is nie, moet hy of sy ‘n beëdigde verklaring van die polisie kry waarin die wettige eienaar toestemming gee dat sy voertuig die grens mag oorsteek.

In die geval van ‘n gehuurde motor, moet die bestuurder ‘n brief vanaf die verhuringsmaatskappy hê waarin daar ingestem word dat die voertuig die land mag verlaat.

Die polisie het aangedui dat afskrifte van ál die dokumente saamgebring  moet word, omdat hulle motoriste onder geen omstandighede deur die grens sal toelaat as die dokumente nie reg is nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines