

ADVERTISEMENT:

Avonturier Dave van Graan (58), afgeneem voor die Voortrekker Monument vanwaar hy op 10 November weggespring het op sy 2 100 km staptog na Kaapstad. Foto: Facebook.
News Date: 11 December 2015
Avonturier Dave van Graan (58) van Louis Trichardt is ‘n man op ‘n missie. Hy het 10 November besluit om die gerief van sy huis en motorkar te verruil vir ‘n tent en stapstewels en te voet die lang pad vanaf Pretoria tot in Kaapstad aan te pak.
Sy rede? Vir Dave was dit beide ‘n persoonlike uitdaging, asook manier om geld in te samel vir iets baie na aan sy hart – die bewaring van die land se renosterbevolking as deel van die Save the Rhino projek.
“Ek het vir jare lank aan ‘n siekte gely wat baie pynlik was en my rug aangetas het, tot so ‘n mate dat ek meeste dae sterk pynstillers moes neem. Daar was nie veel hoop op herstel nie, maar in 2013 het ‘n spesialis my behandel met ‘n middel genaamd Humira. Ná ‘n lang tydperk waartydens baie toetse gedoen is, is ek ingespuit. Ek het binne ‘n paar dae geen pyn gehad nie ... Ek het lank terug gesê dat indien ek eendag herstel, wil ek graag deur Suid-Afrika stap om my pynvrye lewe te vier,” sê Dave.
Dave het in alle erns in September 2014 begin oefen deur in die berg te loop. “In Desember 2014 het ek besluit om te kyk of ek al fiks genoeg is vir die langpad, en het na Musina gestap,” sê Dave. Dit het hom twee-en-‘n-halwe dag geneem om die 100 km af te lê. Heel tevrede met sy vordering het hy aanhou oefen. Intussen het Bart van de Vyver van HI-Q vir hom ‘n staptrollie gebou, genaamd die Bart Mobile.
In Februarie vanjaar het Dave besluit hy is gereed om die pad tussen Louis Trichardt en Pretoria aan te pak. Tot sy ontsteltenis was daar ‘n hittegolf wat die noordelike deel van die land getref het en moes hy soms tot in temperature van 40°C stap. “Soms het ek sommer net langs die pad my tentjie opgeslaan en daar geslaap. Ander aande was ek gelukkig en kon ek by ‘n plaas of gastehuis oornag. Soms is ek toegelaat om my tent op iemand se erf op te slaan,” sê Dave. Dave het 12½ dae gestap tot op Kerkplein. “Ek het 7 kg gewig verloor, my skoene was deurgeloop en my voete baie seer. Ek het geweet dat dit nie die einde was nie ...” sê Dave.
In September het Dave weer ernstig begin oefen en het op 10 November, as wegspringdatum na die Kaap, besluit. Sy wegspringpunt was die Voortrekker Monument. Dave beplan dat die 2 100 km Kaap toe hom so twee-en-‘n-halwe maand sal neem om af te lê. Tans probeer hy daagliks so tussen 20 en 30 km stap. Sy trollie met al sy toerusting en kos weeg sowat 80 kg en etes bestaan hoofsaaklik uit pasta, biltong, blikkies vis, Bully Beef en beskuit. Hy is egter dankbaar dat die etes soms afgewissel word deur weldoeners wat langs die pad by hom stop, hom iets lekkers te ete gee en sy projek ondersteun.
Dave is egter nie heeltemal alleen nie. Hy het vir hom ‘n maat saamgeneem. Dié se naam is Thema, ‘n klein speelgoed renoster. Thema is die Tshivenda woord vir swart renoster.
Die Zoutpansberger het Dinsdag vir Dave telefonies opgespoor in Orania. Hy moes vir twee dae daar oorbly vanweë ‘n hittegolf, met die kwik wat net bokant die 40°C gedraai het. Hy was in goeie gees en opgewonde om verder te stap. “Dit is ‘n ongelooflike avontuur! Party dae gaan dit maar swaar, maar dit bly lekker,” sê Dave. Hy was toe al 27 dae op die pad, met 1 200 km agter die rug en nog 900 km om te gaan. Volgens hom verloop alles nog volgens plan en behoort hy middel Januarie in Kaapstad aan te kom. Sy skoene is egter al bietjie afgeloop maar, sê hy, hy “lap” dit maar soos hy aangaan.
Dave sê hy is oorbluf deur die ondersteuning wat hy langs die pad kry. “Kort-kort stop daar mense om te hoor of ek oraait is, hoe dit gaan, of ek iets nodig het – of hulle gee vir my iets om te eet,” sê Dave. Ná 1 200 km is hy en die Bart Mobile en Thema al baie goeie vriende.
Vir die onmiddellike beplan Dave om binne die volgende week of so tot in Richmond te vorder. En dit is nie hoofpad-langs nie. Dinsdag het hy die grondpad tussen Orania en Kraankuil aangepak en vandaar oor De Aar na Richmond. Persone wat graag sy vordering wil volg, kan gerus sy Facebook-blad, https://m.facebook.com/savetherhinoSUF/, besoek. Mense kan hom ook ondersteun deur hom te WhatsApp by 082 772 6682. Indien enige iemand sy fondsinsameling vir die Save the Rhino projek wil ondersteun, kan hulle dit doen deur die Shared Universe Foundation se Facebook-blad te besoek by https://www.facebook.com/RATcapetolondon/
“Word deel van die geveg teen die uitwissing van die renoster. Ek stap om mense meer bewus te maak van die verskriklike slagting van renosters wat tans in die land aan die gang is,” sê Dave.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
