ADVERTISEMENT:

 

Misdaad

Dorp se lys van misdaad word net al langer

 

News  Date: 12 December 2015

 

Louis Trichardt se lys van onopgeloste misdade word by die dag al hoe langer. Verlede week het die Zoutpansberger berig oor die LiquorZone drankwinkel wat die negende gewapende roof was vir November. Skaars het die koerant op straat verskyn of daar is berig ontvang dat ‘n bejaarde egpaar die nuutste slagoffers geword het.

Die Gilbert-egpaar is Donderdagaand (4de) by hulle plaashuis, sowat 20 km van Louis Trichardt, aangeval. Die rowers was gewapen en het die egpaar vasgebind en aangehou terwyl hulle die huis geplunder het. Volgens inligting wat die polisie verskaf het, het die boewe weggekom met 'n klein hoeveelheid kleingeld, selfone, .38-rewolwer en ‘n Toyota Corolla voertuig.

Voor die Gilberts aangeval is, is daar Woensdagaand (3de) twee voertuie gesteel, ‘n Toyota Land Cruiser in Naboomstraat en ‘n Volkswagen Jetta by Soetlus-woonstelle.

Die naweek het rowers hul verfoeilike skrikbewind voortgesit en nóg besighede in Louis Trichardt is geteiken. In een geval het 'n werknemer genoop gevoel om terug te slaan en op 'n rower te skiet.

Vrydagaand is Steers/Debonairs in Burgerstraat net voor toemaaktyd beroof. Volgens die Makhado polisie het drie mans, waarvan twee gewapend was, die winkel binnegekom. Een het ‘n skoot afgetrek, maar gelukkig niemand raakgeskiet nie. Helaas kon die rowers daarin slaag om te ontsnap met ‘n onbekende bedrag geld.

Kort hierna moes die polisie hulle haas na die parkie by die Inligtingsentrum op die hoek van die N1 en Songozwistraat. Drie mans het glo losgebrand op die insittendes van ‘n geparkeerde voertuig, voordat hulle op die vlug geslaan het. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.

Vroeg Saterdagoggend het die Bergwater Hotel in Rissikstraat ook deurgeloop. Twee verdagtes het die ontvangsdame genader en gemaak of hulle kamers wou bespreek vir die aand. Hulle het die vrou met ‘n pistool aangehou, terwyl hulle kontant uit die kluis probeer krap het met ‘n stuk draad. Die twee rowers se planne is lelik in die wiele gery toe ‘n werknemer, mnr. Hennie Els, hulle betrap het en een rower geskiet het.

Els het Maandag vertel dat hy gedink het die hotel is klaar beroof toe hy die kluis buite die hotel sien lê het. Hy het ondersoek gaan instel, maar is deur twee mans vasgekeer wat gedreig het om hom dood te skiet as hy dit sou waag om alarm te maak. Een van die rowers het 'n pistool teen Els se kop gedruk en hom na die ontvangskantoortjie gelei en daar toegemaak. 

Els het vertel sy kniekoppe het skoon gebewe, maar toe hy alleen was het hy besluit om eerder op te tree en te gaan seker maak of die personeel veilig is. Gelukkig het die rowers hom nie deursoek nie, want hy het sy handwapen by hom gehad. Els het nie ver uit die kantoor gevorder nie, toe een van die rowers hom gesien het. Els het, uit vrees vir sy eie lewe, 'n skoot afgetrek. Die verdagte is gewond, terwyl sy makker die hasepad gekies het.

Die tweede man is wel later aangekeer, en het Dinsdag vlugtig in die hof verskyn. Hy sal in aanhouding bly tot die polisie kans gehad het om hul ondersoek af te handel. 'n Dringende versoek van die tweede verdagte se ma om 'n borgaansoek te bring is van die hand gewys. Sy het gevra dat haar seun vrygelaat kan word sodat hy sy matriekeksamen kan klaarmaak. Die man sal na verwagting Vrydag weer in die hof verskyn hier in Louis Trichardt. Daar word vermoed dat hy, en sy medebeskuldigde in die hospitaal, verbind kan word met die vlaag rowe wat sedert September in Louis Trichardt aangemeld is.

Dinsdagaand is nog 'n gesin, wat in Snymanstraat woon, deur aanvallers by hulle huis aangehou. Sover die koerant kon vasstel, het 'n onbekende aantal aanvallers die man van die huis by sy hek ingewag en die huis ingeforseer. Die man en sy dogters is deur die aanvallers vasgebind en later gedwing om hul kluis oop te maak. Die rowers het die man later in sy voertuig gedwing en hom naby die dorpsdam in Rivierstraat afgelaai.

Die woordvoerder vir die Makhado Polisie, konst. Irene Radzilane, het Dinsdag bevestig dat altesaam twee verdagtes aangekeer is in verband met die roof by Bergwater en binnekort in die hof hier sal verskyn. Teen druktyd was die toestand van die gewonde verdagte nog kritiek. Hulle name sal bekend gemaak word met hul volgende hofverskyning. 

Lees ook:

07/12/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34666/2015-12-07/totale-anargie

30/11/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34545/2015-11-30/aeers-na-die-tyd-besef-jy-ek-kon-dood-gewees-heta

23/11/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34445/2015-11-23/misdaad-ruk-handuit

13/11/2015-  http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34269/2015-11-13/vlaag-van-misdaad-duur-steeds-voort

02/11/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34095/2015-11-02/voorvalle-geasoleerd-maar-skerp-veiligheid-op

30/10/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/34088/2015-10-30/plotbewoners-saa-hulle-voel-al-meer-onveilig

19/10/2015- http://zoutpansberger.co.za/articles/news/33841/2015-10-19/misdaad-buite-beheer

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines