

ADVERTISEMENT:

Anton Steyn, afgeneem in die Louis Trichardt Streekshof, nadat hy skuldig gepleit het op 'n klag van statutêre verkragting.
News Date: 14 December 2015
Dit was ‘n dag soos enige ander, maar in oogwink is ‘n jong meisie se lewe ingrypend verander. Die meisie was 15 jaar oud. Sy was petite vir haar ouderdom. Dié betrokke dag in 2005 was sy die oggend nog ‘n kind by Hoërskool Louis Trichardt, maar teen die middag het sy die nuus ontvang dat sy ‘n ma gaan word. Haar lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Op die brose ouderdom van 14 het die ondenkbare met haar gebeur - sy is verkrag.
Vandag is die meisie ‘n 25-jarige vrou. Sy het hierdie week ingestem dat haar storie gepubliseer mag word nadat sy nou, amper ‘n dekade later, hierdie traumatiese hoofstuk in haar lewe wil afsluit.
Haar verkragter het Maandag skuldig gepleit op ‘n klag van statutêre verkragting. Die vrou het besluit om na vore te kom, sodat sy berusting kan kry en haar voluit kan uitleef in haar huwelik en nuwe gesin.
Anton Daniël Steyn (46) is ‘n vragmotorbestuurder wat in Pretoria woonagtig is. Hy is ook die man wat haar op die ouderdom van 14 jaar verkrag het. Die vrou het uitgevind sy is reeds agt maande swanger toe sy inmekaargesak het tydens ‘n netbalwedstryd by Triegies. Haar pa het haar dokter toe geneem, waar hulle gehoor het dat sy binnekort ‘n ma gaan word.
Die vrou was nog meer geskok as haar ouers; sy het nooit só ‘n intieme verhouding met haar kêrel of enige ander man gehad nie. Sy het geen benul of herinnering gehad van wat met haar gebeur het nie. Dit was deels ook hoekom dit so moeilik was om 'n klag te lê, want sy kon nie onthou wie haar verkragter was, of wanneer hy haar verkrag het nie.
Eers later, toe haar dokter haar gehelp het om die datums terug te werk, het die vrou besef sy is gedurende September 2004 verkrag.
Al wat sy kan onthou is dat sy en haar boetie in dié tyd saam met Steyn (toe 33) in sy vragmotor gery het, en dat hulle by ‘n plek oorgeslaap het. Steyn was ‘n goeie huisvriend van die familie en die kinders is per geleentheid toegelaat om saam met hom in die vragmotor te ry. Die vrou het die volgende oggend wakker geword, moeg, met ‘n hoofpyn en bloedbelope oë. Haar boetie het ook gekla van hoofpyn en dat hy moeg voel.
Die vrou vermoed dat Steyn hulle altwee ‘n verdoofmiddel in hulle koffie toegedien het. Sy het bloeding gehad, maar dit toegeskryf aan haar maandelikse siklus. Soos die maande verloop het, het sy ook nie onraad vermoed nie, weens die afwesigheid van die normale tekens.
Haar pa het vir Steyn gekonfronteer oor die vermoedes wat die gesin gehad het. Steyn het als ontken, maar later, toe die vrou se kind gebore is, ingestem tot ‘n ouerskaptoets. Steyn was die pa.
Die vrou se familie het bankvas agter haar gestaan. Hulle is almal merkbaar emosioneel as haar ma vertel hoe die geboorte amper haar dogter se lewe geëis het. Die dag ná haar kind se geboorte is haar oupa oorlede.
Die gesin het saam besluit dat hulle nie nog kans sien vir die ekstra trauma en hartseer van ‘n polisie-ondersoek nie.
Ná haar kind se geboorte het die vrou teruggegaan skool toe en haar matriekloopbaan voltooi. Dit was nie altyd maklik nie, en haar broer moes per geleentheid met die vuiste inklim as sy sussie beskinder en vieslike name genoem is. Party mense het selfs beskuldigende vingers in die rigting van haar pa gewys.
Nou, amper 10 jaar later, het die onverwerkte trauma en hartseer weer na die opervlakte geborrel toe die vrou uitgevind het sy en haar man verwag hulle eersteling.
‘n Maatskaplike werker, wat vir die Staat getuig het, het die hof meegedeel dat die vrou geweldige trauma ervaar as gevolg van wat Steyn haar aangedoen het toe sy nog ‘n kind was. Die vrou het ook angs ervaar met haar tweede swangerskap en in vrees gelewe dat die geboorte ook komplikasies gaan hê. Sy moet nou vir traumaberading gaan.
“Ek wil hê hy moet weet hoe verneder ek was om ‘n baba te hê op die ouderdom van 14, terwyl hy net kon aangaan met sy lewe asof niks gebeur het nie. Ek wil hê hy moet gestraf word vir wat hy aan my gedoen het. Dit sal my help om berusting te kry en my lewe te hervat,” het die vrou aan die hof gesê.
Haar ouers en broer het haar Dinsdag ondersteun by die hof en haar hande vasgehou toe Steyn se vonnis uitgelees is. Steyn is gevonnis tot drie jaar direkte gevangenisstraf of ‘n boete van R6 000. Hy is ook ‘n verdere twee jaar gevangenisstraf opgelê wat vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is. As deel van sy straf het die hof ook gelas dat Steyn se besonderhede opgeneem word in die nasionale seksoortredersregister. Die hof het toestemming gegee dat Steyn sy boete kan afbetaal teen ‘n R1 000 per maand. As hy ‘n betalingsdatum oorslaan, sal hy onmiddellik sy tronkstraf moet begin uitdien.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
