ADVERTISEMENT:

 

Hierdié stories prikkel lesers se belangstelling

 

News  Date: 17 December 2015

 

Die Zoutpansberger het hierdie jaar besluit om bietjie weg te breek van tradisie en nie weer ‘n opsomming te maak van die jaar se belangrikste nuusgebeure wat weekliks die nuusblaaie gehaal het nie.

Instede daarvan is daar besluit om bietjie datajoernalistiek te pleeg om te probeer vasstel watter artikels die gewildste was by lesers, veral artikels op ons webblad Zoutpansberger.co.za. Anders as die gedrukte koerant, is dit baie makliker om Internet-gebruikers se leespatrone te bepaal, aangesien daar rekord gehou word van watter artikels lesers lees.

Die oefening het nogal ‘n paar interessanthede opgelewer. So byvoorbeeld was dit nie altyd die gedrukte voorbladberig wat in ‘n spesifieke week die meeste aandag getrek het nie. Dit was ook nie altyd harde nuus wat die aandag getrek het nie. Meegaande was die top 20 artikels (van mees gelese artikel eerste tot en met nommer 20) wat die afgelope jaar verskyn het:

Die top artikel van 2015 was die berig oor die 24-jarige me. Masindi Clementine Mphephu wat haarself tot die Thohoyandou Hooggeregshof gewend het as deel van die jarelange tweespalt oor die Vhavenda koningskap. Die artikel het in die Zoutpansberger van 28 Augustus verskyn, met die hof wat haar saak vanaf 31 Augustus sou aanhoor. Haar saak strek terug na 2012, toe Mphephu hofstukke ingedien het waarin sy aanvoer dat sy volgende in lyn was vir die Vhavenda koningskap, maar dat sy as gevolg van geslagsdiskriminasie oorgekyk is. Kort voor dit het President Jacob Zuma aangekondig dat die nuwe koning van die Vhavenda Toni Mphephu Ramabulana sou wees.

In die tweede plek was die artikel oor die lewenslange vonnisoplegging van die 40-jarige Freddy Azwitamisi Tshikhudo. Tshikhudo het die hoofrol gespeel in Louis Trichardt se opspraakwekkende “Handsaak”. Hy is daarvan aangekla en skuldig bevind dat hy die 36-jarige Rumbidzai Manyere in April 2013 vermoor het. Hy het daarna haar arm afgesny en toe probeer om met die arm die Patels se winkel in Eltivillas te beroof. Hy het nie ver gekom nie en is aangekeer. Buiten vir sy lewenslange vonnis op die moordklag, is Tshikhudo ook onder meer skuldig bevind op klagte van verkragting van twee ander vroue. Die artikel het in die 10 Julie uitgawe van die Zoutpansberger verskyn.

“Vrou deur bok deurboor” was die storie wat die derde meeste gelees is. Dit het op 25 September verskyn en het die storie vertel van die 27-jarige Rose Kemp wat op 22 September deur een van haar njala-teelbulle deurboor is, terwyl sy besig was om die dier in ‘n passiewe boma in te jaag. Rose is van voor, deur die maag, by die rug uit deurboor. Sy is inderhaas vanaf haar plaas in die Vivo-omgewing deurgejaag na Louis Trichardt, waar sy gestabiliseer is en daarna oorgeplaas is na die MediKliniek in Tzaneen. Rose het wonderbaarlik die voorval oorleef.

Alhoewel dit net ‘n kort beriggie met 'n meegaande videogreep was om inwoners in te lig van wat pas op 28 September in die middedorp ontvou het, was dit die vierde-mees-gelese berig vir 2015, en wel oor die gewaagde roof voor Absa Bank. Rowers het ‘n bankkliënt by die bank se voordeur ingewag, hom gewond en beroof. ‘n Wilde skietery het tussen die rowers en lede van die Makhado SAPD ontstaan, maar die rowers kon daarin slaag om te vlug. Wonderbaarlik is geen omstanders in die oor en weer skietery gewond nie, alhoewel ‘n paar voertuie koeëlgate bygekry het. ‘n Volledige berig hieroor het in die uitgawe van 2 Oktober verskyn.

Die uitgawe van 10 April wys dat dit nie noodwendig die voorbladberig is wat die meeste aandag trek nie. Die berig op bladsy 4 oor die pasafgelope Paasnaweek se padsterftes en ongelukke is die vyfde-mees-gelese artikel vir 2015. In minder as ‘n week is meer as 11 ongelukke in Louis Trichardt en omstreke gerapporteer. Talle het hul lewens verloor, terwyl ‘n menigte ander ernstige en minder ernstige beserings opgedoen het.

Korrupsie is so alledaags dat dit meestal nie meer snaaks of nuus is nie. Wat wel nog nuus is, is wanneer persone wat korrupsie moet uitroei, juis dié is wat die korrupsie pleeg. Die artikel van 2015 wat die sesde meeste gelees is, was die nuus dat drie polisiebeamptes ná ‘n polisielokval gearresteer is op klagte van korrupsie en die aanvaarding van omkoopgeld. Al drie was gestasioneer by die Pafuri grenspos en is daarvan aangekla dat hulle gehelp het om gesteelde voertuie oor die grens te smokkel teen betaling. Dié artikel was ook nie die voorbladberig van 6 Maart nie, maar wel ‘n klein beriggie wat op bladsy 6 van daardie uitgawe verskyn het.

In die uitgawe van 16 Oktober was dit weereens nie die harde nuus wat die meeste belangstelling by lesers ontlok het nie. Die sewende-mees-gelese artikel vir 2015 was wel die bladsy 10 artikel van ‘n talentvolle jong plaaslike haarkapster, Taki Mabobo van C Jay’s Haarsalon. Sy het wêreldwyd strawwe kompetisie uitgestof nadat sy aangewys is as 2015 se Intercoiffure Mondial Stylist of the Oceonia Region pryswenner. 

Die agste top artikel van 2015 was weereens nie die voorbladberig van 24 Julie, maar wel ‘n kort bladsy 2 berig van ‘n man wat ‘n swaar vonnis opgelê is nadat hy probeer het om ‘n ietermagog te verkoop. Victor Mulalo Ratombo (37) is in Oktober van die vorige jaar gearresteer, nadat die polisie ‘n lewendige ietermagog in ‘n plastieksak by hom gevind het in sy voertuig. Die ietermagog is ‘n spesiaal beskermde spesie op die randjie van uitwissing. Op die swartmark kan ‘n ietermagog vir tot R150 000 verkoop. Ratombo het aangevoer hy het nie geweet die dier is beskermd nie, en dat hy dit nie wou verkoop nie, maar eerder as troeteldier wou aanhou. Die hof het nie sy storie geglo nie en hom ‘n boete van R40 000 of drie jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan 18 maande opgeskort is.

Ongelukke waarin minibustaxis en busse betrokke is, bly steeds groot nuusgebeure. Dit was ook die geval in die uitgawe van 10 Julie. Die artikel in die negende plek was dié van die minibus-taxi wat in ‘n gru-ongeluk net buite Musina by die weegbrug betrokke was. Die minibus-taxi het met ‘n vragmotor gebots. Sewe mense het gesterf in die ongeluk, terwyl reddingswerkers talle kritiek-beseerde passasiers uit die wrak moes sny. Dit LUR vir paaie en padveiligheid, Mapula Mokaba, het ná die ongeluk gesê sy departement deel in die hartseer van mense wat familielede in die talle ongelukke op die land se paaie verloor.

In die tiende plek was dit weer ‘n polisiebeampte wat die nuus gehaal het, nie omdat hy sy werk gedoen het nie, maar omdat hy aan die verkeerde kant van die gereg was. In die Zoutpansberger van 20 Februarie is berig van vyf verdagtes wat vasgetrek is nadat hulle daarvan verdink is dat hulle die Wylliespoortwinkel tussen Louis Trichardt en Musina beroof het. Dit sou by nadere ondersoek aan die lig kom dat een van die verdagtes ‘n lid van die polisie se Beskermings- en Sekuriteitseenheid in Pretoria was. Ntakadzeni Emmaneul Takalani (28), Thizwikoni Phungo (32), Lutendo Nemuramba (32), Thomas Nndwamoto Thovhokale (56) en Shumani Ludere (32) staar klagtes van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig. Die polisielid, Takalani, staan op ‘n verdere klag tereg van die besit van ‘n vuurwapen met die opset om ‘n misdryf te pleeg. Daar word ondersoek ingestel om vas te stel of hy betrokke was by die roof, en of hy sy dienspistool gebruik het.

In die uitgawe van 25 September het die hartroerende artikel van iets baie positief wat uit baie lelik gekom het, verskyn. Vroeër vanjaar het die koerant berig oor ‘n hond wat ‘n baba-fetus in die veld langs Kortstraat uitgegrawe het tussen ‘n hoop vullis en na sy baas se huis toe gebring het. Die polisie is ontbied. Op die gru-toneel het past. Leonie Mayfarth van die AGS Charisma gestaan en gebid dat die Here sal ingryp in situasies waar ma’s nie kans sien om geboorte te gee nie en eerder hul babas laat aborteer. Sy het jong ma’s uitgenooi om haar te skakel indien hulle hulself in so ‘n situasie bevind. Twee maande nadat die artikel verskyn het, het ‘n minderjarige meisie van Thohoyandou die artikel gelees en vir Mayfarth geskakel. Sy het nie beplan om swanger te raak nie en was nog op skool. Mayfarth kon die meisie help om die regte besluite te neem. Die meisie het besluit om geboorte te gee aan die baba en te laat aanneem. As alles volgens plan verloop het, sou die baba in Desember van hierdie jaar aangeneem word. Dit was die elfde-mees-gelese artikel vir 2015.

Die jaar 2015 het ook nie sy kwota van politieke onrus vrygespring nie. Die artikel in die twaalfde plek was die berig in die 6 November uitgawe oor plaaslike SAMWU-lede wat geëis het dat beide die burgemeester en munisipale bestuurder van Makhado Munisipaliteit moet bedank. In hulle memorandum het SAMWU die burgemeester en munisipale bestuurder van bedrog, korrupsie en nepotisme beskuldig, veral ten opsigte van die uitgee van tenders en eise ten opsigte van uitgawes.

‘n Ongewone artikel het dit tot in die dertiende plek plek vir die mees gelese artikel dié jaar. In die uitgawe van 24 Julie verskyn ‘n berig oor Musina se jaarlikse skou en wat alles beplan word. Die skou het behoorlik alle verwagtinge oortref met ‘n mengelmoes van interkulturele aktiwiteite wat deur alle gemeenskappe geniet is – voorwaar ‘n ware gemeenskapsskou soos van ouds.

Die weer bly altyd maar ‘n algemene besprekingspunt, veral in ‘n jaar van uiterstes ten opsigte van die droogte, nuwe rekord maksimum temperature en stormskade. Dit is daarom dalk nie heeltemal vreemd dat die 16 Oktober artikel oor die huidige droogtetoestand in die Soutpansberg dit maak tot in die veertiende plek vir mees gelese artikel nie. In die artikel spreek boere hul kommer uit oor die droogte. Op talle plase is daar feitlik geen weiding meer oor nie, en het talle boere begin voer aankoop. Op baie plase waar boorgate nog altyd standhoudend was, droog hierdie boorgate nou op. Die boodskap van die boere was eenvoudig – as dit nie gou reën nie, gaan die hittegolf- en droogtetoestande krisisafmetings begin aanneem.

Dit is blykbaar belangrik vir lesers om te weet wat die verkeersdepartement beplan ten opsigte van polisiëring, veral oor Paasnaweek. Die berig in die uitgawe van 3 April waarin verkeersbeamptes hulle planne uiteensit vir die Vhembe-streek met die oog op die komende Paastydperk, was die vyftiende-mees-gelese artikel vir 2015.

Voormalige senior magistraat Ronnie Rambau en sy twee medebeskuldigdes, voormalige aanklaer Estene Willemse en prokureur Tivoneleni Edmond Lubisi, verskyn weer in die hof. Die drie staan tereg op aanklagte dat hulle omkoopgeld aanvaar het om hofsake se uitslag te beïnvloed.  Hulle is gearresteer tydens ‘n polisielokval. Die saak teen die drie duur al bykans vier jaar. Hierdie was die sestiende-mees-gelese berig op die Zoutpansberger se webblad vir die uitgawe van 20 Februarie.

In die sewentiende plek was die “vat so!” artikel in die uitgawe van 6 Maart van ‘n 41-jarige vrou van Nzhelele wat teruggeveg het teen ‘n man wat haar wou verkrag. Die man het die vrou met ‘n mes oorrompel, haar die bosse ingedwing en beveel om haar klere uit te trek. Die vrou het egter van meet af aan besluit dat dié booswig haar nie gaan verkrag nie en vir ‘n geskikte tyd gewag om ‘n teenaanval te loods. Nadat sy haarself kaal uitgetrek het, het die man sy broek losgemaak. Met dié dat hy sy broek om sy enkels gehad het, het die vrou haar kans gevat. Sy het die mes by die man weggestamp, hom aan sy privaatdele gegryp en geskreeu vir hulp. ‘n Woeste worsteling het ontstaan, maar gelukkig het ‘n ander man die vrou se gille gehoor. Hy het nadergestorm en die verkragter disnis geslaan met ‘n klip. Kort daarna is die man deur die polisie gearresteer, maar hy moes eers mediese behandeling ontvang vanweë ernstige beserings wat hy tydens die terugveg opgedoen het.

Rassisme in die polisiediens het onder die soeklig gekom in die uitgawe van 24 Julie, nadat die Makhado polisie se stasiebevelvoerder, kol. Francois Ramovha, sekere rassistiese uitlatings gemaak het teenoor die Zoutpansberger en een van haar joernaliste. Hy het sy verbale uitlatings ook op skrif gesit en onder ‘n amptelike polisie briefhoof aan die koerant gestuur. Ná aanleiding hiervan het die Zoutpansberger kol. Ramovha by die Menseregtekommissie aangegee. Dié saak word steeds ondersoek. Hierdie berig neem die agtiende plek in vir 2015 op die Internet.

In aansluiting by die elfde-mees-gewilde artikel hierbo genoem, verskyn die berig oor die hond wat ‘n baba-fetus op ‘n vullishoop in die veld langs Kortstraat uitgekrap het. Die hond het die fetus ewe trots teruggeneem na sy baas se huis toe, wat dadelik die polisie ontbied het toe hy die gru-vonds sien. Die voorval het die gemeenskap erg geskok. Later sou dit aan die lig kom dat die baba op tussen ses en sewe maande van die swangerskap deur die ma onwettig geaborteer is.

Nommer 20, die laaste op die lys, was die artikel oor brig. Alex Seopa, polisiebevelvoerder van die Makhado “Cluster”, wat na 36 jaar uit die diens van die polisie getree het. Alom was Seopa ‘n baie gerespekteerde polisiebeampte wat die gemeenskap op ‘n ordentlike wyse hanteer het. Almal was dit eens dat sy kennis gemis sou word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines