ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Vrou in die hospitaal ná jagluiperds haar aanval

 

News  Date: 19 December 2015

 

‘n Vroue adjudant-offisier van die Lugmagbasis (LMB) Makhado is Dinsdag, 8 Desember, opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal, nadat sy deur twee jagluiperds op die basis aangeval is.

Die kommunikasiekantoor van LMB Makhado het by navraag verlede Woensdagoggend gesê hulle is bewus van die voorval, maar het alle verdere navrae verwys na hulle hoofkantoor in Pretoria.

Volgens inligting tot die Zoutpansberger se beskikking in daardie stadium, was die slagoffer AO Leana Reichel, en het die aanval by die basis se versieningseenheid plaasgevind.

Waarom die twee jagluiperdmannetjies haar aangeval het, is onduidelik. Na wat verneem word is die twee mannetjies redelik onlangs na die basis gebring. Hulle is tot sowat twee weke gelede in hokke aangehou, om hulle gewoond te maak aan die mense en geraas op die basis. Verlede Dinsdag was die eerste keer wat die jagluiperds opgemerk is nadat hulle ‘n week vantevore vrygelaat is.

Die twee jagluiperds het klaarblyklik rustig by die versieningseenheid gelê en mense het na hulle kom kyk en selfs foto’s geneem. Die volgende oomblik het hulle vir AO Reichel aangeval en omstanders het hul hande vol gehad om die twee mannetjies van haar af te trek. Sy moes, na wat verneem word, meer as 100 steke kry vir wonde aan haar ore, voor- en agterkop.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het verlede Donderdag in ‘n amptelike verklaring die voorval bevestig, maar het nie in die detail van die aanval ingegaan nie. Hulle het wel verduidelik dat LMB Makhado slegs een van twee basisse in die land is waar jagluiperds gebruik word om te help met die beheer van sekere wildspesies wat ‘n gevaar inhou vir lugvaartveiligheid en die veiligheid van vliegtuie op veral die aanloopbane. “Hierdie praktyk word reeds sedert 1990 suksesvol toegepas, eers by LMB Hoedspruit en kort daarna LMB Makhado,” lees die verklaring.

Die verklaring verduidelik verder dat jagluiperdmannetjies in pare na die twee basisse gebring word en gereeld met nuwe pare vervang word. Hierdie jagluiperds is afkomstig van die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) waar hulle geteel en grootgemaak word. “’n Noue werksverhouding het oor die afgelope twee dekades tussen die lugmag en die HESC ontstaan. In hierdie stadium, danksy die HESC, is waardevolle ondervinding en kennis ingesamel wat die Cheetah-program by al twee hierdie basisse ‘n noemenswaardige sukses maak,” het die lugmag gesê. “LMB Makhado het reeds ‘n ondersoek geloods na die omstandighede wat gelei het tot hierdie ongehoorde voorval.” Die doel van die ondersoek sal wees om voorkomende aksies te neem om soortgelyke aanvalle in die toekoms te verhoed.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines