

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 21 December 2015
Met Louis Trichardt wat vasgevang was in ‘n greep van ernstige geweldsmisdaad, het baie inwoners die Kersseisoen binne gegaan met ‘n gevoel van vrees en bekommernis. Die goeie nuus is egter dat inwoners maar bietjie ‘n sug van verligting kan slaak, danksy hernude ywer van die polisie om daadwerklik die misdaad in die dorp vas te vat.
Ernstige geweldsmisdaad in die Louis Trichardt-omgewing het sedert September dramaties toegeneem. Oor die naweek van 12 September is twee inwoners, mnr. Jonas Sirovheli (24) en me. Maggie Castleman (48), in twee afsonderlike voorvalle vermoor. Die naweek van 24/25 September is mnr. Johan Oelofse doodgeskiet tydens ‘n vuurgeveg met ‘n groep onbekende aanvallers by sy vriendin se plaaswoning. Dieselfde naweek is gekenmerk aan ‘n skrikbewind van terreur met talle inbrake en ander aanvalle. Kort op die hakke hiervan het ‘n string gewapende rooftogte gevolg en het daar tussen 9 September en 16 November meer as 13 gewapende rooftogte in die dorp en omgewing plaasgevind.
Hierdie vlak van ernstige geweldmisdaad (uitgesluit die dramatiese toename in huisbrake en voertuigdiefstalle) is ongekend vir ‘n klein plattelandse gemeenskap en inwoners het in vrees geleef. Vrae is ook gevra oor waarom daar nooit gehoor word van enige arrestasies in verband met die misdade nie.
By navraag aan die provinsiale polisie op 30 November het provinsiale polisiewoorvoerder kol. Ronel Otto gesê hulle is daarvan bewus dat Louis Trichardt tans ‘n ernstige probleem het met misdaad, maar dat hulle in die proses is om verandering op bestuursvlak aan te bring.
Een van die hierdie veranderinge was die aanstel van kol. Eddie van der Walt as nuwe groepsbevelvoerder vir die Makhado SAPD. Vanaf sy eerste dag as nuwe bevelvoerder, was verandering sigbaar en daarvoor verdien die polisie ‘n pluimpie.
Van der Walt het verlede Woensdag besoek afgelê by die kantoor van die Zoutpansberger en Otto se woorde beaam dat hulle op hoë vlak bekommerd is oor die misdaadsyfer in Louis Trichardt. Die situasie het daartoe aanleiding gegee dat die provinsiale generaal van misdaadvoorkoming reeds twee keer hierdie maand die dorp besoek het.
Kommunikasie blyk ‘n struikelblok te wees wat indringend aangespreek gaan word. “Die een kwessie was dat ons met die gemeenskap moet praat, veral waar misdaad hoog is. So as daar ‘n straatkomitee of buurtwag is, moet ons met hierdie mense gaan praat en ‘n middeweg vind,” het Van der Walt gesê.
Van der Walt het gesê hy kan nie verstaan waarom Louis Trichardt se misdaad so hoog is nie. Hy het verwys na ander dorpe soos Musina waar hulle die misdaad dramaties afgebring het. “Teen einde September/Oktober was daar bykans elke derde dag ‘n gewapende rooftog in Musina. Ons het met die besighede gaan praat, ons het ‘n WhatsApp-groep gestig en besigheidseienaars [en inwoners] uitgenooi om enige verdagte optrede dadelik aan die polisie te rapporteer … dit het goeie suksesse opgelewer en vir die laaste drie weke was daar geen gewapende rooftogte in Musina nie,” het Van der Walt gesê. Hy plaas ‘n hoë premie op gemeenskapbetrokkenheid in die stryd teen misdaad (vir meer hieroor, lees die onderhoud met kol. Van der Walt op p.2).
As deel van die hernude ywer om misdaad in Louis Trichardt aan te spreek, het die polisie verskeie spesiale operasies in die area gehou sedert Van der Walt se aanstelling. Dinsdag het die polisie aangekondig dat hulle reeds drie groepe gewapende rowers aangekeer het.
Wat die gewapende roof by Steers op 4 Desember betref, is twee verdagtes, Dennis Zulu (34) en Fortune Moyo (30), vasgetrek. Hulle het reeds in die hof verskyn en sal op 18 Desember weer verskyn.
Twee verdagtes is ook aangekeer ná die gewapende rooftog by die Bergwater Hotel op 5 Desember. Steven Nevhungoni (25) en Ndinae Setjie (24) het Dinsdag in die hof hier verskyn, maar teen druktyd was dit nie seker wanneer hulle weer moet verskyn nie.
Die derde groep verdagtes wat aangekeer is, is aangekeer nadat hulle ‘n man in Eltivillas op 8 Desember beroof het. Nhlanhla Khumalo (23) en Vincent Mkhabela (29) is die twee wat weens die roof vasgetrek is. Twee polisiebeamptes is ook tydens die arrestasie beseer, toe hulle met skerp voorwerpe gesteek is.
In ‘n persverklaring het die Makhado SAPS gesê hulle wil graag hierdie feestyd inwoners se veiligheid verseker. Om dié doel te bereik, gaan hulle patrollies opskerp by areas waar 'n hoë voorkoms van misdaad is. Daar sal ook roetine deursoeking van persone wees en beter polisie sigbaarheid in die dorp. Die polisie sal ook ekstra moeite doen om gesoekte misdadigers op te spoor. “Ons versoek die gemeenskap om met ons hande te vat en ons te laat weet van moontlike gesteelde goedere, verdagte voertuie en onwettige immigrante,” het die polisie gevra.
Inligting hieroor kan deurgegee word aan die aanklagkantoor by tel. 015 519 4300 of die bevelvoerder van sigbare polisiëring, lt.kol. Rambau by 082 573 3289.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
