

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - “Ons gaan deur hel. Ons moes aan ons beste vriende die berig bring dat hulle dogtertjie in ‘n fratsongeluk dood is,” het die direkteur van die Manamise Paradise Primary School ‘n week na die ongeluk gesê.
In die ongeluk op 10 Augustus is twee leerlinge dood en drie ernstig beseer nadat ‘n brandweerwa oor hulle gery het. ‘n Skoolbus was op pad terug van ‘n opvoedkundige uitstappie vanaf Durban.
Ongeveer drie kilometer buite Louis Trichardt het die linkervoorwiel van die bus aan die brand geslaan. Die bestuurder het die hulp van die brandweer op Makhado ontbied. Intussen het die kinders en onderwysers die bus ontruim en sommige het in die gras langs die N1 gaan lê en slaap.
Nadat die brandweerwa agter die bus gestop het, het die brandweermanne uitgeklim om hulle toerusting gereed te kry. Die leë brandweerwa het onverwags begin beweeg en oor vyf kinders gery.
‘n Tienjarige meisie, Khodani Mphephu, en seuntjie van agt jaar, Musunda Netshavani, is op slag dood.
Die skooldirekteur, dr. Ntavhanyeni Phaswana, het self aan die ouers die tragiese nuus gebring.
“Die Mphephu’s is baie goeie vriende van ons. Dit was ontsettend om vir hulle te sê dat Khodani nie weer sal huis toe kom nie,” het dr. Phaswana gesê. Netso hartseer was die tragiese nuus vir die ander familie. Phaswana sê dat die ouers ‘n moeilike tyd beleef, maar dat hulle aanvaar dat dit ‘n ongeluk was. Die skool is naby die Hendrik Verwoerd Tonnels geleë en die ouers woon in die Nzhelele-omgewing.
Die burgemeester van Makhado, rdl. Rhulani Nkuzana en die burgemeester van die Vhembe Distrik, Sam Moeti, het die ouers die dag na die ongeluk besoek.
Nog gesinne wat swaar getref is, is dié van die kinders wat steeds met ernstige beserings in die hospitaal in Polokwane lê. Een dogter, Rendani Ramudzuli, is gelukkig nie ernstig beseer nie. Sy is reeds ontslaan en sterk tuis aan. Die drie kinders wat ernstig beseer is, is vanaf die Louis Trichardt Gedenk Hospitaal oorgeplaas na die provinsiale hospitaal in Polokwane. Hulle is die twaalfjarige Tshamano Nthai wie se bekken gebreek is, die elfjarige Phungo Rembuluwani wie se regterbeen gebreek is en die negejarige Rudzani Mabala met ‘n gebreekte regterbobeen. Die kinders is buite gevaar, maar op Sondag (14de) was dit nog nie duidelik hoe lank hulle nog in die hospitaal sal moet bly nie.
Phaswana sê dat die ander kinders erg getraumatiseer is. Die skool het professionele hulp ingekry om die kinders te beraad. Ds. A. E. Randitsheni van die Lutherse Kerk in Thohoyandou was onder die beraders, asook pastoor Muhali van die AGS Kerk in Nzhelele, wat deurlopend steun ver-leen.
Volgens ‘n woordvoerder van die polisie op Makhado ondersoek die polisie ‘n klag van strafbare manslag. Die brandweer het besluit om nie die betrokke brandweermanne se dienste op te skort nie.
Die begrafnis van Khodani en Musunda vind op Saterdag, 20 Augustus, om 07:00 by die voormalige Makhado Onderwyskollege in Nzhelele plaas.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
