

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Of dit nou sabotasie of slytasie is, die gemeenskap is duidelik besig om keelvol te raak vir onderbrekings in krag- of watervoorsiening.
Op 11 Augustus is drie kragpale net buite die dorp langs die Thohoyandou-pad in die middernagtelike ure afgesny. Die middelste van die drie pale is aan die brand gesteek en met dié se valslag is ook ‘n tweede paal omgeruk. Gelukkige het die derde paal staande gebly, maar elektrisiteitsvoorsiening na die dorp se waterpompstasie is ontwrig, asook kragtoevoer na dele van Eltivillas.
Dié blatante gevalle van sabotasie/saakbeskadiging het vrae laat ontstaan of hierdie en ander soortgelyke dade (soos op Levubu) nie grens aan terrorisme nie. Landsbates word doelbewus op strategiese punte beskadig en daar word bespiegel dat hierdie dade moontlik kan verband hou met die landswye staking van munisipale werkers verlede week. ‘n Polisiewoordvoerder het bevestig dat ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging ondersoek word.
Die voorval op 11 Augustus volg na ‘n soortgelyke geval van vermeende sabotasie/saakbeskadiging van twee kragpale in Levubu op Sondag, 7 Augustus. Dit het veroorsaak dat die grootste gedeelte van Levubu vir sowat 24 uur sonder krag was. Boere kon nie hulle vrugte verpak of besproeiing toepas nie. Supermarkte moes ook rondskarrel om derduisende rande se verliese aan vleis te voorkom.
Levubu Laerskool is ook ernstig geraak deur krag- en waterprobleme. Na die wydverspreide kragonderbreking wat die skool Maandag (8ste) lamgelê het, moes hulle weer op 11 en 12 Augustus noodmaatreëls tref na die onderbreking in krag- en watervoorsiening.
“Ons was gereed om die skool na die naweek te sluit as daar nog geen kragvoorsiening was nie,” het die skoolhoof, mnr. Nico Botes gesê. Die skool het hulle misnoeë uitgespreek oor ‘n situasie waarin onskuldige kinders gestraf word as gevolg van dade van mense wat kontraproduktief optree.
In Louis Trichardt het dele van die dorp naby aan die Barnardstraat-reservoir verlede week ‘n paar dae sonder water gesit. Saakbeskadiging/sabotasie is vermoed, maar gelukkig het dit geblyk nie die geval te wees nie.
“Dit was slegs te wyte aan slytasie,” het ‘n munisipale woordvoerder gesê.
Intussen het die Transvaalse Landbou-unie hulle heftig uitgespreek teen die dade van sabotasie/saakbeskadiging. Die voorsitter van die DLU Levubu, mnr. Stephen Hoffman, het op 10 Augustus die toneel besoek waar die elektriese netwerk beskadig is. Hy het berig dat die kragpaal klaarblyklik met ‘n klein handsaag gesaag en die ankertoue gesny is. Die paal is aan die brand gesteek om seker te maak dat die paal omval. Die TLU sê dat die misdadigers ‘n baie spesifieke plek naby Mambedi in die Sapekoe teeplaas geteiken het.
“Dit is duidelik dat die misdadigers oor inligting beskik het ten opsigte van die elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk van die munisipaliteit,” sê die TLU.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU-Noord, het gesê dat dade van sabotasie reuse verliese vir die boeregemeenskap van Levubu meebring. Verder het hy verwys na die kostes wat sulke dade vir die munisipaliteit meebring wat beskadigde toerusting moet vervang. Mnr. Joubert het ook gevra of stakende munisipale werkers dalk iets te doen het met die dade van saakbeskadiging. Hy het ‘n waarskuwing aan vakbondleiers gerig om hulle lede te beheer. Aan munisipale werkers wat staak, sê mnr Joubert dat hulle eerder moet poog om te bou aan die munisipaliteit wat aan hulle werk verskaf. Daar is miljoene Suid-Afrikaners wat nie werk het nie en wat graag werk wil hê. Joubert het ook munisipale werkers daaraan herinner dat die Makhado Munisipaliteit ernstige finansiële probleme ondervind en dat hulle aksies die krisis vererger.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
