

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARD) – Die kwaai droogte van die afgelope paar jaar het elke boomliefhebber weereens bewus gemaak van die dorp se groot skat aan inheemse flora.
Die kwaai droogte van die afgelope paar jaar het onteenseglik bewys dat die inheemse bome in die dorp baie beter opgewasse is teen die droogte as die uitheemse spesies. Dit het elke inwoner wat omgee vir die natuur, en in die besonder vir bome, laat besef van watter onskatbare waarde die inheemse flora vir mense is. Inwoners het duidelik hul misnoeë laat blyk met die Raad se poging om die Inheemse Boompark te ontwikkel. Natuurliefhebbers het die poging met hand en tand beveg. Tog blyk dit asof daar ‘n groot roekeloosheid by talle inwoners heers rondom die blatante uitroei en afkap van bome.
Talle voel die munisipaliteit maak hom ook erg skuldig aan die erge verwaarlosing van die dorp se boomerfenis langs strate en in parke. Was dit nie vir ‘n paar Samaritane in die dorp nie, het die termiete voor die winter reeds die helfte van die dorp se bome opgevreet, omdat daar glo nie geld was vir termietbestryding nie. Die park in Rissikstraat, regoor die toetsgronde, het blykbaar ‘n onuitputlike bron van water, want daar loop die munisipale sproeiers dag en nag. ‘n Hele paar bome, selfs van die Koorsbome, het al in die stof (of ekstra groen gras) gebyt as gevolg van te veel water.
Dit gebeur tog soms dat ‘n boom of bome afgekap móet word, as daar geen ander uitweg is nie. So ‘n voorbeeld was die ongelukkige voorbeeld op die hoek van Ruh- en Presidentstraat (reg langs die boompark) waar die erf gesoneer is vir woonstelle. Die ontwikkelaar wat daar betrokke is, het alles probeer om die pragtige ou doringbome se lewe te spaar, maar dit sou nie moontlik wees om op daardie erf twintig woonstelle te bou nie, ‘n pad en riool te voorsien, sonder dat drie van die ou “here” verwyder moes word nie. By ondersoek is ook gevind dat hy al die regte kanale gevolg het, en nie aanspreeklik is nie.
Mnr. Allen McMurtrie van die plaaslike Departement van Omgewingssake het by navraag gesê die publiek moet onthou om seker te maak van hul wetlike verpligtinge, voordat hulle bome links en regs begin uithaal. Daar is wette in plek om die omgewingsimpak te beskerm. ‘n Permit is nodig om ‘n inheemse boom te verwyder, behalwe as dit droëhout (dooie boom) is.

ADVERTISEMENT:
