

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Ondersoek is aan die gang na die wyse waarop twee jeugdiges verkeerdelik deur die polisie op Mara saam met volwasse verdagtes oornag in ‘n sel toegesluit is waarin een van hulle in polisie aanhouding dood is.
‘n Vyftienjarige kind uit Zimbabwe, wat aanvanklik op ‘n aanklag van die besit van vermeende gesteelde goedere aangekeer is, is strydig met die staande opdragte en in weerwil van ‘n hofbevel deur die polisie op Mara in ‘n sel saam met volwasse vermeende geweldenaars toegesluit. Hy is nou saam met hulle ‘n verdagte in die moordklag wat spruit uit die dood van die 16-jarige Elias Molaiwa van Indermark, wat gedurende die vroeë oggendure van 30 Julie vanjaar in die betrokke polisiesel dood is.
Die polisie is met die eerste verskyning van die vyftienjarige verdagte op die aanvanklike mindere misdaadklag, beveel om die minderjarige kind oor te plaas na die jeugaanhoudingsfasiliteit op Waterval. Die opdrag is nie uitgevoer nie.
Met sy verskyning op die latere moordklag, saam met drie volwassenes, is amptelike misnoeë in die hof uitgespreek oor die feit dat die kind nog steeds op dieselfde wyse op Mara saam met volwassenes in dieselfde sel aangehou word, in weerwil van die hof se beslissing dat hy na Waterval verskuif moes word. Geen rede is verstrek vir die verontagsaming van die hofbevel nie. Van die volwassenes in die sel is aanvanklik aangekeer op klagtes van poging tot moord, roof, brandstigting en ernstige aanranding.
Intussen is ernstige kommer besig om uit te kring oor die vyftienjarige kind se situasie.
Verlede Vrydag het hy nie by die hof opgedaag toe hy weer saam met die volwasse verdagtes voor die hof moes verskyn nie. Polisie van Mara, wat verantwoordelik was om hom na die hof te bring, het verduidelik dat hulle hom nie vanuit sy aanhouding op Waterval kon bring nie, aangesien hy “siek” was. Hulle het onderneem om hom vandeesweek na die hof te bring. Teen Dinsdag het dit nog nie gebeur nie.
Strydig met die bepalings van die Strafproseswet, is daar na twee verskynings in die hof nog geen aanduiding van enige poging om ‘n toesighoudende beampte vir die Zimbabwiese kind te aktiveer nie. Met sy volgende verskyning sal regsverteenwoordiging vir hom bespreek word.
Die Strafproseswet bepaal dat daar met die arrestasie van ‘n minderjarige onmiddellik alle moontlike pogings aangewend moet word om sy ouers of ‘n voog te betrek en om ‘n proefbeampte vir die jeugdige te bekom. Die polisie se area kommunikasie-afdeling op Thohoyandou het op versoek onderneem om die voorval te ondersoek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
