ADVERTISEMENT:

 

"Departement moet betaal vir lisensie-fiasko"

 

News  Date: 26 August 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die hoogs omstrede rybewysfiasko in die Limpopo Provinsie is finaal die nekslag toegedien deur ‘n hofbevel, uitgereik in die Pretoriase Hoërhof.

Die betrokke departement en LUR is aanspreeklik vir die aansienlike koste van die administratiewe debakel. ‘n Verwagte verdere vloedgolf van eise wat enorme finansiële implikasies vir die departement ingehou het, is voorkom deur ‘n tydige skikking in die saak.

Alle rybewyse wat geraak is deur die omstrede optrede van die provinsiale Departement van Vervoer, bly geldig. Die Departement het in ‘n skikkingsooreenkoms toegegee dat die nietigverklaringskennisgewings verkeerdelik uitgereik is en gevolglik heeltemal geïgnoreer moet word. Die Departement moet die koste dra van die hofaksie wat ingestel is namens ‘n groep applikante wat verteenwoordig is deur prokureur Phillip Smit van Polokwane. Die welslae wat in die hofaksie behaal is namens die betrokke applikante is ook van toepassing op al die ander lisensiehouers wat deur die Departement se optrede geraak is.

Die regsadviseurs van die Departement het op 17 Augustus tydens ‘n konsultasie met mnr. Smit versoek om die aangeleentheid te skik en nie voort te gaan met die hofaansoeke teen die Departement nie.

Ingevolge die skikking is ‘n hofbevel verkry waarin die Departement toegee dat hy die nietigverklaring van die rybewyse verkeerdelik uitgereik het. Die Departement is onder die verpligting om die tersake regsreëls vir regverdige administrasie en natuurlike geregtigheid toe te pas in gevalle waar die betrokke rybewyse heroorweeg word.

Mnr. Smit het by navraag bevestig dat die kanse uiters skraal is dat enige van die betrokke lisensiehouers se rybewyse in die toekoms ingetrek sal word, aangesien die meeste van hulle, met die korrekte toepassing van die Administratiewe Reg se reëls, as geldig beskou sal moet word.

Intussen het die provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie, mnr. Michael Holford, kommer uitgespreek oor die koste-implikasie van die rybewys fiasko vir die belastingbetalers. Hy het dit beskryf as ‘n vrugtelose verkwisting van die belastingbetalers se geld en daarop gewys dat hy reeds in die eerste helfte van 2004 die probleem van gekanselleerde rybewyse sonder welslae met die LUK opgeneem het.

Hy sê letterlik duisende mense in die Limpopo Provinsie is geraak deur die lompe, onregmatige optrede van die Departement, wat hulle by implikasie vals beskuldig het dat hulle hul rybewyse op ‘n onwettige wyse bekom het.

“Hierdie mense is nog steeds verward. Hulle voel dat hulle onnodig lastig geval is deur die Departement en dat hulle verplig was om tyd en geld te bestee om telefonies vrugtelose navrae by regeringsbeamptes te probeer doen. Ons glo dat die departement nie genoeg gedoen het nie om amptelik verskoning te vra vir die mense wat hy so onnodig lastig geval en beledig het nie.”

Die verkeershoof by die Makhado Munisipaliteit, mnr. Martin Luus, het by navraag gesê hy is bly om te verneem dat die netelige saak tot ‘n punt gekom het en dat almal besef dat daar gefouteer is.

“Dit is belangrik dat enige misstand op die korrekte wyse aangespreek moet word. Almal wat deur die aangeleentheid geraak is, sal sekerlik verlig wees dat dit afgehandel is en dat hulle nou weer rustig kan voortgaan met hul lewens.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines