ADVERTISEMENT:

 

Wyle Willie van Rooyen (53).

"Bonzai" se skoene moeilik gevul

 

News  Date: 26 August 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - “Met sy nommer vier skoene het hy ‘n nommer veertien spoor getrap,” sê ‘n kollega van oorlede adjudant offisier Willie van Rooyen van die Lugmagbasis Makhado.

“In daardie groot spore kan ‘n mens die toekoms bou,” sê ‘n moedige Petro wat met haar kinders, Kobus (18) en Alicia (17) agtergelaat word.

Willie (gebore op 4 Oktober, 1951) is op 16 Augustus in die ouderdom van 53 jaar en 10 maande oorlede, nadat komplikasies na afloop van ‘n hartoperasie ingetree het

Willie het 35 jaar gelede by die lugmag aangesluit en die Van Rooyens woon al twaalf jaar in Louis Trichardt. By die werk is Willie altyd bewonder vir sy tegniese kennis en insig. Hy was verbonde aan die radarafdeling. Die jonges wat AO Van Rooyen, of Bonzai, soos sy bynaam was, “getoets” het, het hulle in ‘n soliede man vasgeloop. Hy het geen dubbele standaarde en geen witbroodjies gehad nie. Hy was regverdig en opreg en kon ander motiveer en konflik maklik ontlont.

Van sy kollegas het voorgestel dat sy biografie geskryf word en Petro, self ‘n vaardige skrywer, het ingestem om daarmee behulpsaam te wees.

Willie se liefde en deernis vir mense was alombekend en almal wat naby aan hom was, het geweet jy kan altyd op sy knoppie druk. Hy was bereid om snags op te staan vir mense wat hom nodig gehad het. Hy het letterlik oor ‘n muur gespring om ander mense te help, soos wat sy bure prakties ondervind het.

“Sy prioriteite was altyd reg. Geld en besittings was nie vir hom belangrik nie, maar wel die reën op sy wange, die berg se lug op sy gesig, die son op sy lyf en die voëltjies in die tuin,” sê Petro in haar digterlike styl. Op sy versoek word hy veras en sy as op sy geliefde berg uitgestrooi.

“Dit was Willie se suiwer liefde vir my en ons kinders wat meegebring het dat ons een van die raarste voorregte op aarde kon beleef: ‘n gelukkige huwelik van 21 jaar,” sê Petro.

Willie het vir sy kinders, wat in die toneelwêreld belangstel, geleer: “dit maak nie saak wat nie, the show must go on.” Kobus is akteur by die skool se toneelgroep en Alicia behartig die klank. Die aand voor die roudiens het altwee hulle allerbeste gegee by die toneelopvoering. So het hulle gebou op hulle pa se woord.

Petro is besonder dankbaar vir die ondersteuning wat die kinders van die toneelgroep en die orkesgroep ontvang het.

Die familie bedank die Lugmagbasis dat hulle die reëlings van die semi-staatsbegrafnis so vlot laat verloop het. Hulle bedank almal in die gemeenskap wat blomme gestuur en kos aangedra het, met ‘n spesiale woord van dank aan dr. Phillip Venter vir sy ondersteuning. Die familie het ondersteuningswense ontvang van sover as Australië, Swede en België.

Wyle Willie word ook nog oorleef deur sy ouers, Koos en Mara van Rooyen, sy suster Olivia en sy broer, Riaan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines