

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Instansies in twee buurlande is met woord en daad bygestaan deur ‘n plaaslike gemeente se uitreikspan wie se hande vir enige werk reggestaan het.
Ds.Willem Boshoff van die N. G. Kerk Louis Trichardt-gemeente en 11 spanlede het vanaf 6 tot 17 Julie by die Sola Scriptura Bybel Opleidingskollege in Mzuzu, Malawi, gewerk, asook besoeke gebring aan bejaardes in Zimbabwe.
Sola Scriptura Bybel Opleidingskollege in Malawi is deel van ‘n groep kolleges wat oral in Afrika gevestig word. Daar is tans vier, waarvan die eerste een op Barberton gebou is, die tweede in Mosambiek, die derde in Malawi en die vierde een, wat nou in sy kinderskoene is, in Kenia. Die bybelkolleges vervul in ‘n groot en dringende behoefte in Afrika aan bekostigbare, maar deeglike opleiding in die Bybel.
Die uitreikspan het met praktiese handearbeid en boumateriaal wat hulle vervoer het, gepoog om toestande by die kollege te verbeter. Ds. Peet Erasmus, hoof van die kollege, en sy vrou het die afgelope vier jaar in Malawi die luukse van ‘n lekker warm bad ontbeer. Die span het ‘n warmwaterstelsel vir hulle geïnstalleer. Dit was maar een van 23 verskillende verbeterings of bydraes wat die span in Malawi gemaak het. Die span van 12 lede was groot genoeg dat hulle kon verdeel in kleiner werkspanne, wat tegelykertyd aan verskillende projekte aandag kon gee en het in ‘n kort tydjie baie uitgerig. Hulle werksaamhede het ingesluit die opsit van ‘n dak, vele elektriese werk, houtwerk, verfwerk en kampterreinverbeterings. Baie skenkings van boumateriaal, asook kos en Bybels, is afgelewer. Die span het bestaan uit ds. Willem Boshoff, André Botha, Jannie Brink, Simon Sauer, Ina Niemann, Senta Wessels, Anri Jordaan, Gideon Schnetler, Luzelle Brown, Stefan Jansen, Ferdi Vorster en Nadine de Lange.
Spanlede het besef met hoe min geld die opleidingskollege oor die weg kom. Daar is 48 studente en dit kos hulle MK300 (ongeveer R20) per maand vir klas- en losiesgeld. Die R20 is selfs vir sommige studente nie bekostigbaar nie. Ds. Boshoff sê dat hy beïndruk is met die kwaliteit van die Bybelopleiding by die kollege.
Op pad Malawi toe en op pad terug is twee NG-gemeentes in Zimbabwe besoek en besonderse aandag aan die bejaardes gegee.
“Die mense het die persoonlike besoek geweldig waardeer. Hulle voel die kerk in Suid-Afrika het hulle darem nie vergeet nie. Toestande in Zimbabwe is chaoties en dit stel hoë eise aan gelowiges. Hulle voel geïsoleerd en het onderskraging van buite nodig. Dit gaan al hoe moeiliker om liggaam en siel aan mekaar te hou,” sê ds. Boshoff. Die span het die Kadoma-gemeente se jaarlikse funksie vir bejaardes bygewoon en geskenkpakkies, saamgestuur deur verskeie individue en omgeegroepe van Louis Trichardt, oorhandig. Drie instansies in Marondera het ook finansiële hulp en voorrade ontvang.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
