

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2005
POLOKWANE – Die gesprek oor “vrywillige verkoper, vrywillige koper” is nog lank nie afgehandel nie. Hierdie beginsel is die grondslag van ‘n volgende beginsel, naamlik eiendomsreg, wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans word.
Die voorsitter van die TLU-SA Noordstreek, mnr. Dries Joubert, het met hierdie stelling reageer op uitlatings van die LUR vir Landbou en Grondsake, me. Dikeledi Magadzi, tydens haar jongste ontmoeting met die TLU-SA Noordstreek se verteenwoordigers.
Joubert het die LUR bedank vir die tyd wat sy vir die vergadering afgestaan het, maar sy kommer uitgespreek omdat die LUR dit as afgehandel beskou dat die beginsel van vrywillige koper, vrywillige verkoper uit die grondeise debat verwyder is.
Joubert sê die aanloop tot die nasionale grondberaad en die “besluite” wat daar geneem is, vorm deel van ‘n goedbeplande propaganda veldtog om witmense te intimideer en te ontmoedig. Die propaganda veldtog moet met strategiese beplanning teëgestaan word. Hy sê wit Suid-Afrikaners moet nie moed verloor nie, maar moet die regte opeis wat die Grondwet vir hulle gee.
Hy het sy kommer uitgespreek nadat die LUR dit duidelik gestel het dat bloot net die “vaardighede” van wit boere benodig word. Dit impliseer dat witmense nie meer welkom is om in Suid-Afrika onafhanklik te boer nie. Sy het verskeie kere gesê dat wit boere “vennootskappe” met swart eisers moet aangaan; dat die regering die oordra van vaardighede van wit boere nodig het in die lig van die grootskaalse mislukkings met die oordra van grond na eisers. Op ‘n vraag waar wit boere wat wil boer grond gaan kry nadat al die eise afgehandel is, het sy ontwykend geantwoord met ‘n vae verwysing na die res van Afrika en elders in die wêreld.
Joubert sê dit is duidelik dat die ANC geen voorsiening maak vir witmense om as boere hul roeping in Suid-Afrika uit te leef nie.
“Wat regstellende aksie in stede doen om witmense doelbewus te verarm en ekonomies te ontmagtig, so word grondeise gebruik om wit boere doelbewus te ontmagtig en te verarm.
“Die LUR tref duidelik onderskeid tussen die ‘grond’ en die ‘besigheid’ van boerdery. Dit is juis hierdie ideologiese ekonomies-ongegronde onderskeid wat veroorsaak dat soveel van die plase wat oorgedra word, in totale chaos verval,” het Joubert gesê.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
