

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Inwoners het hul na die media gewend om hul frustrasie weer te gee oor die skokkende toestand van die dorp se munisipale begraafplaas.
Talle voel dat hulle nie langer van die diens gebruik kan maak nie. Begrafnisse het ‘n groot onkoste geword. By dit alles wil die publiek die versekering hê dat daar goed na hul afgestorwe geliefdes se laaste rusplek omgesien sal word.
By nadere ondersoek is daar gevind dat dit nie net verwaarlosing is wat by die begraafplaas plaasvind nie. Die grafte is in ‘n algehele skokkende toestand. Daar is menige gevalle waar blompotte rond gegooi is en een graf is selfs met graffiti versier. Van die kopstukke en blompotte is sommer afgebreek en lê tussen die ander grafte rond. Talle voorbeelde van grafte wat in die grond ingesak het, is ook oral te sien.
Die Makhado Munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, het op navraag gesê dat dit die naasbestaandes self is wat verantwoordelik is vir die onderhoud van hul afgestorwenes se grafte. Die strukturele skade aan die grafte kan nie voor die deur van die munisipaliteit gelê word nie, aangesien hulle nie finansieel daarvoor aanspreeklik is nie. Hy sê die finansiële aanspreeklikheid vir die opmaak van die graf en herstel van grafte wat beskadig word deur buite faktore, berus by die naasbestaandes. Hy sê hy voel egter baie sleg oor die algemene vandalisme wat by die begraafplaas plaasvind.
Mapholi het onderneem om op die saak in te gaan. Hy dink aan ‘n behoorlike veiligheidsheining of ‘n muur rondom die begraafplaas. Dit sal besoeke aan die begraafplaas ook baie veiliger maak.

ADVERTISEMENT:
