

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 September 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Makhado Munisipaliteit se totale vloot voertuie was verlede week vir ‘n paar dae “onwettig” op die pad, nadat hul lisensieskyfies weens administratiewe probleme nie hernu kon word nie.
Die probleem met die lisensieskyfies het in gevalle dienslewering tot stilstand gedwing, nadat verskeie munisipale amptenare van onder meer die elektrisiteitsafdeling geweier het om met die voertuie te ry waarvan die lisensieskyfies verval het.
Mnr. Koos Brits van die Raad se Verkeersafdeling het bevestig dat daar ‘n probleem met die uitreiking van nuwe lisensieskyfies was. Hy sê egter dat die geld vir die uitreiking van die nuwe lisensieskyfies betyds oorbetaal is, maar dat ‘n probleem met onder meer die brandweer se voertuie die hele proses vertraag het.
Soos nou reeds bekend het die Vhembe Distrik Munisipaliteit die brandweerdiens oorgeneem. Terselfdertyd moes die brandweer se voertuie lank gelede reeds van eienaar verander het vanaf die Makhado Munisipaliteit na die Vhembe Distrik Munisipaliteit. Weens ‘n “administratiewe” fout het dit nooit gebeur nie, wat veroorsaak het dat die Makhado Munisipaliteit steeds aanspreeklik gebly het vir enige agterstallige lisensiegeld. Volgens die nuwe nasionale lisensiëringsisteem mag geen nuwe lisensieskyfies uitgedruk word vir die eienaar van meer is een voertuig nie, alvorens alle agterstallige lisensiegeld op al die voertuie nie betaal is nie. Weens agterstallige lisensiegeld op onder meer die brandweer se voertuie kon daar dus geen lisensieskyfies vir enige van die Raad se ander voertuie uitgereik word nie.
“Wat gebeur is dat die sisteem ‘n vorm uitgereik het wat sê ons het reeds ons lisensiegeld betaal, maar dit wou ons nie toelaat om lisensieskyfies uit te druk nie,” het Brits verduidelik. Hy sê hy was nie eers bewus van die bestaan van die voertuie waarop agterstallige lisensiegeld was nie, totdat die sisteem geweier het om die lisensieskyfies te druk. Die lisensieskyfies is wel later uitgereik, nadat die Raad voorlopig die agterstallige lisensiegeld namens die Vhembe Distriks Munisipaliteit betaal het. Volgens Brits sal hulle maar ‘n rekening stuur vir Vhembe en seker maak die voertuie word oorgedra. Buiten vir die brandweer se voertuie het die voertuig van ‘n munisipale beampte wat bedank het, ook bygedra tot die probleem.
Wat die kwessie betref dat sekere munisipale amptenare geweier het om op klagte van die publiek te reageer uit vrees dat hulle beboet gaan word as hulle ry, het Brits gesê hy het die probleem opgelos deur ‘n brief te teken waarvolgens hy persoonlik geskakel kon word om die probleem te verduidelik indien amptenare afgetrek word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
