

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 September 2005
POLOKWANE – Olifante, buffels en politici is van die grootste risikofaktore vir ‘n moontlike bek-en-klouseer uitbraak in die noorde van Suid-Afrika.
Kenners het bevestig dat buffels draers van die siekte is. Olifante is verantwoordelik vir die breek van heinings, wat buffels laat deurbeweeg na naburige gebiede, waar beeste en ander diere besmet kan word. Intussen word die gebrek aan politieke wil en die departementele geskarrel oor die verantwoordelikheid om strategiese grensheinings in stand te hou, as een van die grootste enkele uitstaande probleme in die voorkoming van die gevreesde siekte beskryf.
Landboukenners het na afloop van die jongste bek-en-klouseer simposium op die Eiland gesê die regering besef die erns van die situasie en moet nou daadwerklik optree.
“Aan die een kant dui die regering aan dat hulle ernstig is om die bek-en-klouseer-vrye status van Suid-Afrika te handhaaf. Aan die anderkant lyk dit asof daar min politieke wil is om die besluite te neem en uit te voer, wat die volgende uitbreking van die siekte sal voorkom,” het mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU-Noordstreek na afloop van die simposium gesê. Hy sê ‘n uitbraak van die siekte sal die ekonomie in die Limpopo Provinsie en in die hele land nadelig tref. Selfs mense wat nie met beeste of wild boer nie, word daardeur geraak.
Mnr. Joubert het die organisasies wat by die simposium teenwoordig was, geloof en gesê die simposium was lank reeds nodig. Hy sê die amptelike teenstrydighede in die bekamping van die siekte is kommerwekkend.
Op die simposium is bevestig dat veral ses tipese bek-en-klouseer virusse voorkom, waarvan net drie tipes in Suid-Afrika bekend is. Die entstof wat nou hier in gebruik is, maak net vir die drie tipes voorsiening. Die gevaar van oorgrensparke is dat die ander drie tipes na Suid-Afrika kan versprei. Dit sal ernstige probleme op groot skaal veroorsaak. Mnr. Joubert sê ideologiesgedrewe politieke besluite gaan die land en veral boere – opkomend sowel as kommersieel - nog baie kos.
Oor die instandhouding van die strategiese heinings sê mnr. Joubert hy is bly dat die LUR vir Landbou, me. Dikeledi Magadzi, aangedui het dat haar departement die werk sal doen en ‘n rekening vir die verantwoordelike departement sal stuur.
Hy sê die TLU-SA Noordstreek sal voortgaan om druk op die regering uit te oefen om hul verantwoordelikheid teenoor die burgers van die land na te kom. ‘n Komitee is reeds in die lewe geroep wat inspeksies uitvoer om seker te maak dat die noordelike heinings wel instandgehou word.
Hy het waardering uitgespreek vir die werk wat dr. Piet Loock en sy bekwame span in die gedeelte noord van Louis Trichardt doen en vir die goeie diens wat die Departement van Landbou aan die landbouers in die gebied lewer.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
