ADVERTISEMENT:

 

Me. Marie Helm van die TLU-SA Noord-streek by een van die “bewaarde” aalwyne.

SANPA kom tot aalwyne se redding

 

News  Date: 02 September 2005

 

POLOKWANE – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANPA) is hier geloof vir sy bewaringsbewustheid, nadat groot sorg geneem is om ‘n groot aalwynplant binne die padreserwegebied te red.

Die voorsitter van TLU-SA Noord, mnr. Dries Joubert, het SANPA bedank vir die moeite om ‘n prageksemplaar van ‘n marlothii aalwyn langs die pad digby Bandelierkop te red.

Die aalwyn het omgeval en die SANPA het seker gemaak dat dit weer stewig teruggeplant is.

Mnr. Joubert het lede van die publiek gevra om saam te werk om die inheemse planterfenis te bewaar. Hy het veral ‘n beroep op grondeienaars gedoen, wat aalwyne en ander inheemse plante moet verwyder, dat dit so gedoen word dat die plante op ‘n ander plek hervestig kan word. Hy het gevra dat versamelaars met die Streekkantoor van die TLU-SA Noord moet skakel sodat aalwyne wat verwyder moet word, ‘n nuwe tuiste kan kry.

“Aalwyne kom klaar met baie min water. Mense behoort meer aalwyne in hul tuine aan te plant. Hulle blom gewoonlik in die laat winter, ‘n tyd wanneer daar nie regtig ander blomme beskikbaar is nie. Aalwyne is dankbare plante wat ‘n aanwins vir enige tuin kan wees,” het mnr. Joubert gesê.

Hy het versoek dat mense nie aalwyne wat in die veld voorkom, moet uithaal nie. Hy het ‘n uitdaging aan kwekerye gerig om die moontlikheid te ondersoek om inheemse aalwyne te kweek, sodat die wonderlike plante vir die nageslag behou kan bly en om so seker te maak dat versamelaars nie nodig het om aalwyne in die veld te verwyder nie. Hy sê daar is al heelwat kwekerye naby groter stede wat spesialiseer in die kweek van sulke inheemse plante.

“Ons almal kan saam ons planterfenis help bewaar as ons die voorbeeld van die SANPA hierin volg,” het mnr. Joubert gesê.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines