

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 September 2005
BUYSDORP - Pasiënte sit dikwels tevergeefs en wag dat die mobiele kliniek opdaag. Dit skep probleme, veral vir diegene wat chroniese medikasie moet gebruik.
Mnr. Gilbert Lawrence, voorsitter van die kliniekkomitee op Buysdorp, sê dat baie chroniese pasiënte elke maand hul medikasie moet kry. Volgens die mobiele kliniek se program kom hulle elke tweede Dinsdag. Dit gebeur dan dat hulle nie opdaag nie en ook nie laat weet nie.
Mev. Bollie Smuts het verlede week gesê dat sy anderhalfuur gestap het om medikasie te kry.
“Ons wag die heeldag en hulle kom nie. Hulle laat weet ook nie. Vandat dr. Maritz weg is, het ons probleme,” sê mev. Smuts.
Die kliniekpersoneel kom dan ook nie die volgende dag of week nie, maar wag weer tot hul volgende datum. Op daardie manier raak mense agter met hul chroniese medikasie. Dit raak veral pasiënte wat op chroniese medikasie is vir hoë bloeddruk, suikersiekte, asma en geestelike versteurings. Daar is ongeveer 30 tot 40 pasiënte wat chroniese medikasie ontvang.
Nadat pasiënte met akute of chroniese siektes die ganse dag gesit en wag het en die kliniek nie opdaag nie, moet hulle dan ten einde laaste na die hospitaal op Louis Trichardt vervoer word.
“Die mense is pensioenarisse en hulle het nie altyd geld om Louis Trichardt toe te gaan nie,” sê mnr. Lawrence.
‘n Deel van die frustrasie sal verminder word as die mobiele kliniek net laat weet as hulle nie gaan opdaag nie.
In sy kommunikasie met die klinieksusters, het mnr. Lawrence uitgevind dat daar ‘n probleem met vervoer is. Hy is meegedeel dat hulle magteloos is sonder vervoer. Daar was ‘n stadium dat nuwe motors aan hulle toegewys was, maar skynbaar is die motors weer teruggestuur na Polokwane.
Wanneer die mobiele kliniek wel opdaag, word daar dikwels ‘n ander probleem ondervind.
“Hulle bring nie al die pille vir die pasiënte nie. Ek verstaan nie hoekom nie, want hulle het die lys met die pasiënte wat chroniese medisyne kry en hulle weet wat dit is. Hulle is nie georganiseerd nie,” sê mnr. Lawrence.
Die mobiele kliniek word gehou in die VG Kerk Mara se pastorie met die nodige sitgeriewe. Mnr. Lawrence sê dat hulle met ‘n donasie van R2 per pasiënt die huis skoon hou, deur skoonmaakmiddels, lugverfrisser en toiletpapier aan te koop en ‘n skoonmaker te betaal. Daar is ook ‘n bloeddrukmasjien wat aan die gemeenskap behoort. Die kliniek is naby die Mara Primêre Skool en siek skoolkinders word daarheen geneem. Swanger vrouens en pasiënte met ander siektes soos griep en verkoue gebruik ook die kliniek.
Die situasie het so ontwikkel dat daar nog ‘n punt ontstaan het vir die uitdeel van pille. Dit is by die Mara Polisiestasie.
“Daar is nie geriewe nie. Die mense daar betaal nie die R2 nie. Hulle kom ver en hulle staan buitekant. ‘Gelukkig’ het dit nog nie hierdie jaar gereën nie,” sê mnr. Lawrence.
Mnr. Aaron Nemaguvhuni, die Vhembe Distrik Munisipaliteit se kommunikasiebeampte, het hierdie week gesê dat hy tyd nodig het om die probleme te ondersoek. Hy sou graag volledige kommentaar wou lewer, veral oor die vervoerprobleme wat die mobiele kliniek ondervind.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
