

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 February 2016
Die stof het nog nie gaan lê in die veelbesproke geval van skoolgeweld waarin twee leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt verlede jaar betrokke was nie.
In die nadraai van die saak is die kalklig geplaas op aspekte betreffende die skool en sy beheerliggaam se wetlike gesag.
Twee seuns was betrokke in ‘n gewelddadige konfrontasie met mekaar, waartydens een gewond is met ‘n mes. ‘n Rusie het ontstaan tussen die twee, en beide is verhoor en vir ‘n tydperk van 14 dae geskors.
In daardie stadium was die twee leerlinge onderskeidelik in Graad 12 en 11. Die Graad 12-seun het intussen sy matriekjaar afgehandel, maar die Graad 11-seun sit met die hande in die hare, nadat hy permanent die skool belet is.
Vir dié seun is dit ‘n penarie, omdat hy nou nie meer sy skoolloopbaan plaaslik kan voltooi nie. Hy het wel plek gekry in die Hoërskool Middelburg en Hoërskool Merensky. Sy eerste opsie was te ver van sy ouerhuis, en Merensky het sy aansoek afgekeur nadat hulle ‘n glo ‘n anonieme oproep ontvang het oor die seun se skorsing by Hoërskool Louis Trichardt.
Sy ouers het noodgedwonge die Departement van Basiese Onderwys se streekskantoor hier in Louis Trichardt genader vir hulp. Hulle probeer ook nog uitvind wie die oproep geplaas het na Merensky.
‘n Amptelike brief is wel deur die departement se streekkantoor uitgereik. In die brief, gedateer 1 Februarie, word Hoërskool Louis Trichardt se skoolhoof, mnr. Louis Cilliers, aangeraai om die seun toe te laat tot die skool. Die beheerliggaam, nie die skool, het die ma meegedeel dat haar seun nie weer toegelaat gaan word nie.
Dit is juis hierdié verwikkeling wat die ma laat wonder het wie die finale sê het - die skool, die beheerliggaam of die departement?
“Onder geen omstandighede wil ons die leerling te na kom nie. Ons moet egter ook die belange van die hele skool en die res van die studente in ag neem,” het die voorsitter van die beheerliggaam, mnr. Braam Dekker, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy het ook uitgewys dat die seun 18 is, wat die skool verder vrywaar. ‘n Skool is wetlik verplig om ‘n leerling onder die ouderdom van 18 in te neem, mits hy of sy voldoen aan die skool se toelatingsbeleid.
Die skool se besluit om die seun nie weer toe te laat nie, volgens Dekker, nie ligtelik geneem nie, maar streng volgens die Skolewet, wat ook in lyn is met die Grondwet. Hy het verder verduidelik dat, in terme van die Skolewet Afdeling 16(2), die beheerliggaam ‘n vertrouensposisie teenoor die skool het, wat dit verplig om te alle tye in die beste belang van die skool op te tree.
Gesien in die lig van hierdie artikel het die beheerliggaam ‘n besluit geneem dat dit derhalwe nie in die beste belang van die skool of sy leerlinge sal wees om die seun weer toe te laat nie. “Hy het onaanvaarbaar opgetree, en ons is van die mening dat hy sal inbreuk maak op die ander skoliere se reg om in ‘n veilige omgewing skool te gaan,” het Dekker gesê.
Dekker het ook genoem dat die seun nie net geskors is as gevolg van van die mesvoorval nie. Die seun was wel die party wat beseer is, maar, sê Dekker, die seun het reeds by verskeie vorige geleenthede die skool se gedragskode oortree. Dit alles is in ag geneem deur die beheerliggaam. “Daar is spesifiek reëls en prosesse wat ons moet volg in ‘n geval soos die van hierdie seun. Ons wil ook nie graag leerlinge skors nie, en sal altyd eers probeer om leiding te gee en ‘n positiewe ingryping te maak. Daar is baie programme by die skool wat ons met die seun probeer het, en hy is genoeg kanse gegee om sy skoolloopbaan te red,” het Dekker gesê.
Verder het Dekker ook uitgewys dat die kringbestuurder nie wetlik by magte is om tussenbeide te tree sover dit die toelatingsbeleid van ‘n publieke skool aangaan nie. Die wet skryf voor dat die beheerliggaam van ‘n skool dié beleid kan opstel (solank dit in lyn is met die Skolewet).
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
