

ADVERTISEMENT:

Norman Raluswinga (voor) word deur 'n lid van die Soutpansberg Dorpswag gelei na 'n wagtende vangwa. Agter is Matshipi Tumelo Naledzani, wat ook gearrestseer is.
News Date: 20 February 2016
Twee vermeende kapers se verhoor het verlede week hier in die Louis Trichardt Streekshof begin.
Norman Raluswinga (30) en Tumelo Matshipi Naledzani (33) is op 9 September 2014 in hulle spore gestuit deur ‘n gesamentlike poging van die plaaswag, die Soutpansberg Dorpswag en die Makhado SAPD. Hulle word daarvan aangekla dat hulle op dié datum die sakeman mnr. Abdool Patel in die omgewing van die Witvlag-grondpad voorgelê en beroof het.
Raluswinga en Naledzani het verlede Maandag, Dinsdag en Woensdag verskyn op ‘n enkele klagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Hulle het onskuldig gepleit op al dié klagtes.
Patel was die eerste getuie om vir die Staat te getuig. Hy het vertel dat hy die betrokke dag op pad was na sy huis, nadat hy sy besigheid gesluit het. By hom in sy bakkie het hy nagenoeg R10 000 in kontant gehad, wat die winste vir die dag was. Twee mans het hom voorgekeer en van die pad af gedwing. Patel het getuig dat die mans altwee gemasker was en ‘n vuurwapen op hom gerig het.
Die twee mans het hy later uitgeken as Raluswinga en Naledzani, nadat hulle deur lede van die dorps- en plaaswag aangekeer is. Hy het in die hof getuig dat hy Naledzani uitgeken het aan sy grys baadjie, met die woorde “Makhado Municipality” daarop, wat hy aangehad het.
Nadat hy deur die twee mans uit sy bakkie gepluk is, het Patel getuig, is hy met pepersproei in die gesig gespuit. Patel het in die pad afgeloop en plaaswerkers voorgekeer, wat hom opgelaai het en na die Levubu/Thohoyandou-teerpad gevat het. Daar gekom, het hy gesien dat twee verdagtes reeds gearresteer is. Sy geld en selfoon, het Patel gesê, is deur die polisie in die verdagtes se besit gevind.
Patel is tydens kruisondervraging meegedeel dat Raluswinga en Naledzani sal kom getuig dat hulle onskuldig is. Hulle weergawe sal wees dat die kontant wat by hulle gevind is hulle eie was, omdat hulle op pad was na Louis Trichardt om ‘n sweismasjien te koop.
Ná Patel se getuienis het Jean-Pierre Nel vir die Staat getuig oor wat gebeur het terwyl Patel langs die pad gestrand was. Nel was die betrokke dag besig om sy aandete te nuttig in sy sitkamer, wat ‘n uitsig het op die Witvlag-pad. Hy het getuig dat hy gesien het hoe ‘n bakkie teen hoë spoed verbyjaag. Nel het die geval ingeroep na die plaaswag se beheerkamer en besluit om die bakkie agterna te sit.
Die twee verdagtes het intussen, sowat vyf kilometer van die Louis Trichardt af, Patel se bakkie in die bosse gelos en oorgeklim in ‘n minibus-taxi. Van daar af het hy op die verdagtes se spoor gebly, totdat die minibus-taxi van die pad gedwing is en hulle gearresteer is. Nel het Raluswinga en Naledzani positief in die hof uitgeken, omdat hulle nie maskers aangehad het, terwyl hy hulle agtervolg het nie. Hy het verder getuig dat hy stadig verby die twee mans gery het toe hulle uit die bosse gekom het, nadat hulle Patel se bakkie daar parkeer het en hy hulle duidelik kon sien. Nel het ook aan die hof gesê dat hy by was tydens hulle arrestasie en gesien het dat lede van die Makhado SAPD hulle deursoek en toe balaklawas in hulle broeksakke kry.
Ná Nel se getuienis is die saak uitgestel tot 4, 5 en 6 April vir verdere getuienis om aangehoor te word.
Raluswinga en Naledzani sal in aanhouding bly tot dan.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
