

ADVERTISEMENT:

Wyle Cameryn Jackson (33). Foto verskaf.
News Date: 22 February 2016
“Sy is oorlede…” Met dié drie klein woordjies het Heinrich Volschenk vriende en familie kort voor 20:00 verlede Woensdag (10de) laat weet dat sy verloofde, Cameryn Jackson, gesterf het. Dié nuus is begroet met verslaentheid en ‘n algemene gevoel van: Dit kan nie waar wees nie!
Die 33-jarige ma van vyf kinders het in September/Oktober verlede jaar serebrale malaria opgedoen. Sy het letterlik by die dood omgedraai en het in totaal nege dae in die hoësorgeenheid van die Letaba Hospitaal deurgebring. Alhoewel sy herstel het, het haar lewer in die proses skade opgedoen. Ná haar ontslag uit die hospitaal het sy begin kla van ernstige hoofpyne. Sy het op 12 Januarie by haar huis flou geword en in ‘n koma ingegaan.
Cameryn het ná bykans drie weke vir die eerste keer haar oë oopgemaak waar sy opgeneem was in die Zoutpansberg Privaathospitaal in Louis Trichardt. Alhoewel sy glad nie kon kommunikeer nie, was daar tekens dat sy wel geregistreer wat om haar aangaan. Sy kon selfs, toe sy wakker geword het, ‘n happie kos inneem. Dit het menige, veral Heinrich en die paartjie se kinders, met hoop vervul.
Cameryn se verhaal en Heinrich se stryd om kop bo water te hou met die immer stygende mediese kostes en die versorging van die kinders het nie net plaaslik nie maar landswyd mense aangegryp. Die paartjie het geen mediese fonds gehad nie en mense het, buiten om saam te bid, ook hul beursies oopgemaak om te help dra aan die mediese onkoste.
Op Dinsdag, 2 Februarie, is Cameryn oorgeplaas na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal. Haar toestand was in daardie stadium steeds kritiek en sy kon steeds nie kommunikeer nie. Daar is gevrees dat sy moontlik breinskade opgedoen het, en die familie het besluit om haar eerder in ‘n staatshospitaal te laat opneem, sodat sy as staatspasiënt na Polokwane gestuur kon word vir ‘n breinskandering. As privaatpasiënt sou dit doodeenvoudig net te duur gewees het om te doen. “Haar oë was oop, maar mens het nie geweet hoeveel breinaktiwiteit daar was nie,” het ‘n baie hartseer Heinrich Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.
Heinrich het gesê hulle het deurlopend vir die beste gehoop. “Ons was in die proses gewees om te reël vir ‘n breinskandering in Polokwane, alhoewel die dokter vir ons gesê het sy is nie so kritiek dat mens haar voor kan indruk nie. Die waglys is baie lank,” het Heinrich gesê.
Heinrich was by Cameryn in die hospitaal toe sy oorlede is. “Ek het haar net aangetrek en ons was besig om haar bietjie te was. Sy het skielik begin moeilik asemhaal en toe skuif hulle haar oor na ‘n kamer met suurstof, want die kamer waarin sy was, het nie suurstof gehad nie … dit was ‘n kwessie van 10 minute…” het Heinrich gesê. Hy het by haar agtergebly in afwagting vir die dokter om haar dood te verklaar. Cameryn se ma, Roseanne van der Merwe, was ook by die hospitaal en het teruggery huis toe om die hartseer nuus aan die kinders oor te dra.
Vanselfsprekend sukkel die paartjie se kinders om hul ma se dood te verwerk. Cameryn se eie kinders uit ‘n vorige huwelik, Donovan, CJ en Storm, is leerlinge van Laerskool Louis Trichardt. Die paartjie se eie twee seuns, Riaan en Lance, is nog in die kleuterskool. “Daar is regtig baie hulp van die skool se kant af,” sê Heinrich terwyl hy sukkel om die trane terug te hou. Hy sê hy en Cameryn het groot planne vir die toekoms gehad. “Ek dink haar liggaam kon maar net nie die spanning hanteer nie...”
‘n Roudiens is Woensdag vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente vir wyle Cameryn gehou. Sy word oorleef deur haar ma, verloofde Heinrich, haar vyf kinders en broers Jason, Niyl en Lance. “Ek wil net graag vir drs. Emil Gaigher en Fred Badenhorst en die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal uitsonder en bedank vir hul versorging van Cameryn. Baie, baie dankie ook aan elkeen wat bydraes gemaak het en gebid het … dit was nie net ons gemeenskap wat gebid en bydraes gegee het nie … dit was baie wyer as dit gewees,” het Heinrich gesê. Hy is opreg dankbaar, veral vir al die finansiële bydraes. “Daar is geen uitstaande skuld nie. Die hospitaal is betaal en die begrafnis is betaal…” het Heinrich gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
