ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Kan jy dit drink?

 

News  Date: 22 February 2016

 

Dit is tans nie moeilik vir inwoners van Louis Trichardt om hulself in te dink wat inwoners in die droogtegeteisterde gebiede in die res van Suider Afrika elke dag moet verduur nie.

Vir die soveelste keer was inwoners se krane leeg vir dae aaneen. Behalwe vir die droë krane, was die bietjie water wat in sekere dele van die dorp nog beskikbaar was glo vuil, met ‘n onaangename modderige reuk.

By navraag het dit weer geblyk dat die onlangse tekort aan water weereens te danke was aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) se onvermoë om water in belastingbetalers se krane te kry en dit daar te hou.

Verskeie inwoners het hul frustrasies op sosiale media uitgelig. 'n Boodskap het ook die rondte gedoen dat die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam glad nie meer funksioneer nie weens ‘n tekort aan chemikalieë vir die filtrasiesisteem en dat ongesuiwerde water direk in die watervoorsieningsnetwerk ingepomp word. Die groot vraag op almal se lippe was: Is die water veilig om te drink en is dit enigsins geskik vir menslike gebruik?

Die Zoutpansberger het die VDM hieroor genader vir kommentaar. In reaksie het munisipale woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai gesê die water is wel geskik vir menslike gebruik. Op die vraag of hulle ‘n tekort aan chemikalieë gehad het, was Ralushai egter ietwat ontwykend. “Die VDM gaan voort om water te pomp by die Albasinidam, maar is ook tans besig met instandhouding van die aanleg,” het Matodzi gesê en bygevoeg dat ‘n kontrakteur aangestel is om die nodige skoonmaakwerk van die aanleg se filters te doen om te verseker dat inwoners die kwaliteit water ontvang waarop hulle geregtig is.

Ralushai het wel bevestig dat hulle as VDM die afgelope paar weke ernstige krisisse die hoof moes bied. Die grootste hiervan, het Matodzi gesê, is die kroniese stakings deur munisipale werkers. Werkers wat geaffilieer is by die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie het vir weke aaneen gestaak om die VDM se nuut-aangestelde munisipale bestuurder uit die stoel te probeer lig. Dit, het Matodzi verduidelik, het veroorsaak dat die bestelling van suiweringschemikalieë agterweë gebly het. In hierdie stadium, sê hy, is chemikalieë wel aangekoop.

Die gebrek aan chemikalieë en/of probleme met die filters mag dalk die rede wees waarom die water die afgelope week of twee vuil was en sleg geruik het, maar dit verduidelik nie waarom die krane droog geloop het nie. Een teorie is dat die VDM opgehou het om water na die dorp te pomp, juis omdat hulle dit nie meer die water kon behandel nie.

Ralushai het egter die onderbreking toegeskryf aan ‘n verouderde netwerk wat kort-kort breek of lekkasies ondervind. “Die Albasini-netwerk moet ook opgegradeer word. Die infrastruktuur is heeltemal verouderd,” het Matodzi gesê. Weens hul eie krisisse, het Matodzi gesê, het die VDM ook besluit om dringende herstelwerk aan die netwerk uit te kontrakteur aan persone met die nodige kennis. In dié verband is Belta Services die afgelope week aangestel om te help om watervoorsiening na die dorp te herstel.

Intussen het Ralushai verskoning aangebied aan inwoners. “Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om geduldig te wees terwyl die munisipaliteit voortgaan met die instandhouding van die [Albasini] aanleg, en as daar weer ‘n onvermydelike onderbreking [in die watertoevoer] gaan wees, sal dit deeglik aan die publiek gekommunikeer word,” het Matodzi gesê. Volgens hom sal die watertoevoer na die dorp hopelik teen die naweek herstel wees.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines