ADVERTISEMENT:

 

Oom Roelf (65) en tannie Marika (64) by die privaat hospitaal op Louis Trichardt waar beide steke moes ontvang kort na ‘n aanval by hul woonhuis op hul plaas wat byna hul dood veroorsaak het.

Egpaar wat help wreed aangeval

 

News  Date: 09 September 2005

 

LEVUBU – ‘n Plaasegpaar hier se welwillendheid om een van hul plaaswerkers teen haar man te beskerm het verlede week byna hul lewens gekos.

Oom Roelf (65) en tannie Marika du Preez (64) het kort voor die voorval een van hul vroue-arbeiders op hul plaas gehelp om ‘n interdik teen haar man, Robert Mudau (65), te kry na herhaalde klagte van beweerde gesinsgeweld. ‘n Dag nadat die interdik toegestaan is, is Mudau afbetaal en uit diens ontslaan. Dit was Donderdagoggend, 1 September.

Teen middagete het tannie Marika hul voorman by die kampong geskakel en was sy net betyds om te hoor hoe die voorman hulle waarsku dat Mudau op pad is na hul huis toe. Tannie Marika het dadelik haar na die kombuisdeur gehaas om dit te sluit, maar Mudau was klaar daar.

“Hy het vir ons geskreeu ‘Ek maak julle dood, waar is my vrou?’” vertel tannie Marika.

‘n Stoeiery het ontstaan en in die proses is tannie Marika met ‘n snoeiskêr in die arm gesteek. Sy het om hulp geskreeu en dit was toe dat oom Roelf, ‘n afgetrede polisiekolonel, nadergestorm het. Met die intrapslag is oom Roelf verskeie houe met ‘n dompelpomp se as oor die kop toegedien. Hy het egter kopgehou, terwyl hy met Mudau voor die kombuisdeur gestoei het.

Tannie Marika het intussen ‘n agterdeur oopgekry en vir haar man geskreeu hy moet kom. In daardie stadium, vertel tannie Marika, het Mudau egter opgespring en die huis ingehardloop. Dit het die bebloede egpaar tyd gegee om weg te vlug. Intussen het hul plaaswerkers vanaf die kampong hulle te hulp gesnel en Mudau na bewering in die huis betrap waar hy met ‘n kapmes gewag het. Tannie Marika sê sy is seker hy sou hulle doodmaak, indien hulle dit weer in die huis sou gewaag het. Die plaaswerkers het Mudau oorrompel, waarna hy later deur die polisie gearresteer is. Die beseerde oom Roelf en tannie Marika is daarna deurgejaag na die Soutpansberg Mediese Kliniek waar hulle wonde geheg moes word.

“Ons plaaswerkers het ons gered. Ook het ons vandag weer gesien hoe wonderlik die Here is na alles waardeur ek en my ou man is. Ons moet vir Hom dankie sê,” het tannie Marika vanaf haar man se hospitaalbed vertel kort na die voorval. Sy voeg by: “Dit is maklik om sulke stories in die koerant te lees, maar dit is ‘n ander saak as jyself in so ‘n situasie is. Ons het waarlik gevrees vir ons lewens.”

Mudau is gearresteer en het Vrydag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op klagte van aanranding. Weens ‘n onvolledige polisiedossier het die hof egter geen ander opsie gehad as om Mudau op vryborg vry te laat nie. Sy vrylating het groot ongelukkigheid onder inwoners tot gevolg gehad.

Intussen het Mudau klagte van aanranding teen oom Roelf en twee van sy arbeiders, wat die egpaar te hulp gesnel het, gebring. Dinsdag vandeesweek moes oom Roelf en sy twee medeaangeklaagdes in die periodieke hof op Levubu verskyn. Die saak teen hulle is egter summier deur die Staat teen hulle teruggetrek en daar bestaan onsekerheid oor hoe die polisie kon toelaat dat so ‘n klagte teen oom Roelf-hulle in die eerste plek gebring kon word.

Mnr. Reino Mostert, beheeraanklaer van die landdroshof op Louis Trichardt, het Dinsdag inwoners van Levubu gaan toespreek wat ontstoke is oor Mudau se vrylating. Hy het die gemeenskap daarop gewys dat hulle ten alle tye binne die wet moet optree en verwys na die beginsel van “onskuldig, totdat ‘n persoon skuldig bevind word”. Hy het gesê dat inwoners moet onthou dat Mudau dieselfde regte het as hulle. Mostert het gesê dat, aangesien ‘n persoon onskuldig is totdat die hof anders besluit, owerhede nie summier ‘n persoon kan toesluit totdat hy eendag sy onskuld kan bewys nie. Daarbenewens is daar ook ander faktore wat die hof in aanmerking geneem het in hul besluit om Mudua voorlopig vry te laat, soos die feit dat hy binne 48 in die hof moes verskyn en dat die 48 uur oor die naweek sou verstryk het, dat hy bekend is in die omgewing en derhalwe nie noodwendig ‘n vlugrisiko inhou nie en dat hy beseer was en mediese hulp benodig het.

Wat die saak teen Mudau betref, het dit aan die lig gekom dat die klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, gewysig gaan word na ‘n klag van poging tot moord. Verder sal die saak ook oorgeplaas word na die Streekhof vir verhoor.

Tannie Marika het Woensdag gesê dat hulle ‘n bietjie weggaan. Sy het die Levubu-gemeenskap bedank vir die ondersteuning wat hulle kry.

“Vandat ons hier gekom het, was ons nog altyd soos een groot familie. Ek praat nie net van wit inwoners nie, maar ook van ons swart gemeenskap. Dit is ‘n besonderse dinamiese gemeenskap,” sê tannie Marika. Sy sê sy wil niemand uitsonder nie, aangesien sy dalk vergeet om iemand te bedank, maar maak spesiale melding van Boetie Schutte vir sy ondersteuning. Sy het ook ‘n spesiale woord van dank gerig aan al hul familie en kinders vir die besonderse wyse waarop hulle gedra is.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines