ADVERTISEMENT:

 

Me. Martie Haasbroek by een van die halfdooie hoenders wat saam met haar deur bye vanaf ‘n aangrensende munisipale bergingsterrein gesteek is. By haar staan haar tweejarige dogtertjie, Angelique René, wat ontkom het nadat sy inderhaas in 'n kombers weggevoer is.

Bye takel familie en steek hoenders dood

 

News  Date: 09 September 2005

 

MAKHADO - Aggressiewe bye vanaf die munisipale bergingsterrein het ‘n inwoner lelik bygekom en vir ‘n tweede maal hoenders doodgesteek.

Gelukkig het die tweejarige dogtertjie die bye se aanval ontkom toe sy inderhaas in ‘n kombers toegerol en na haar oupa se huis geneem is.

Maandag, omstreeks 08:30, het me. Martie Haasbroek se buurvrou haar geroep om te sê dat haar hoenders vreeslik tekere gaan in die hok. Martie woon in Kortstraat 29 en die erf grens aan munisipale grond. Sy het dadelik vermoed dat dit weer die bye is wat in die hoenderhok ingetrek het.

By ‘n vorige geleentheid in Julie het die bye 30 hoenders doodgesteek, asook ganse, eende en een hond. Die bye het nes gemaak in ‘n voertuigband wat op die terrein lê.

Hierdie keer het Martie dadelik bysteekpille gesluk en uitgehardloop om die hoenders uit die hok te laat kom. Sy is toegetakel deur die bye op haar hande, gesig, bene en rug. Sy is allergies vir bysteek en het geweldig geswel. Met die deurhardloop in die huis in, het die bye om haar geswerm, die huis binne. Haar dogtertjie, Angelique René (of Sussie), is met ‘n kombers toegegooi en na haar oupa en ouma, mnr. en mev. Pieter en Dorothea Chomse, in Wolmaranstraat geneem. Alhoewel die ander huismense deurgeloop het onder die bye, het Angelique gelukkig vrygespring.

“Wat sal volgende keer gebeur as Sussie nie weggeneem kan word nie? Daar is nie altyd iemand om haar weg te bring nie," sê Martie.

Oupa en Ouma Chomse het die munisipaliteit herhaaldelik geskakel. Pa Theo Chomse het twee maal na die munisipaliteit gegaan, waar aan hom gesê is dat hulle alreeds besig is om gif te spuit. Die bye was egter teen laatmiddag nog steeds besig by die hoenderhok waar drie hoenders al doodgelê het en ‘n aantal met hangvlerke rondgeskrop het. Die gifspuiters is nog nêrens gewaar nie.

Op Dinsdag (6de) het mnr. Peter Magwala, Direkteur: Korporatiewe Dienste gesê dat die bye in die munisipale terrein gespuit sal word.

“Die bye vorm ‘n bedreiging vir die gemeenskap en sal voor die einde van die week gespuit word,” het Magwala gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines