ADVERTISEMENT:

 

Me Elsa Retief oorhandig 'n rekenaartablet aan Salomé Tinghithsi (Graad 11). Salomé se klasmaats het self geld ingesamel om die tablet vir haar te koop, sodat sy makliker haar skoolwerk kan opvang die dae wat sy te siek is om by die skool te wees.

Haar moed en durf ‘n inspirasie

 

News  Date: 26 February 2016

 

Die slagspreuk “Leef Voluit!” kry opnuut betekenis as mens na die tingerige Salomé Tinghithsi kyk.

Salomé is ‘n Graad 11-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, en is ‘n sprekende voorbeeld van die skool se berugte leeuemoed waarvoor hulle bekend is. Haar onderwysers is vol lof vir die moed en durf wat sy aan die dag lê om voort te gaan met haar skoolloopbaan.

“Sy is ‘n regte vasbyter,” het haar rekeningkunde onderwyser, mev. Elsa Retief, gesê.

Salomé vertel dat sy in haar Graad 8 jaar gediagnoseer is met gemengde bindweefsel siekte. Dit is ‘n outo-immuun siekte wat haar liggaam se verdedigingstelsel aanval. Die immuunstelsel produseer gewoonlik teenliggaampies om infeksies te bekamp. Met Salomé val haar teenliggaampies haar liggaam aan.

Haar siekte veroorsaak artritis van die gewrigte, uitslag op die vel en val sekere van haar organe aan. Haar longe, byvoorbeeld, is erg verswak en sy moet permanent suurstofbehandeling kry. Sy is ook gedurig in en uit die hospitaal, omdat sy so maklik siek word.

Haar siektetoestand keer egter nie Salomé om haar skoolloopbaan te voltooi nie. Haar gunsteling vak, sê sy, is rekeningkunde. “Ek hou daarvan om met die syfers te werk en hulle te laat balanseer,” sê Salomé.

Wanneer sy in die hospitaal moet wees, hou Salomé aan om haar skoolwerk op datum te hou. Klasmaats stuur vir haar selfoonfoto’s van haar huiswerk en, sê sy, as sy vasbrand help haar ouer broer haar. Sy kyk ook na opvoedkundige video’s om haar skoolwerk aan te vul.

Sowat twee weke gelede het van Salomé se klasmaats besluit om haar te help, en ‘n rekenaartablet vir haar aan te skaf, sodat sy makliker haar huiswerk kan doen in die hospitaal. Die maats het vir elke Triegie-leerling gevra om R5 of meer skool toe te bring. Só het hulle meer as R4 000 ingesamel om vir haar die tablet te kry.

“Ek wil net graag baie, baie dankie sê aan elke Triegie wat my gehelp het. Dit was rêrig groot van hulle,” sê Salomé. 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines