ADVERTISEMENT:

 

Makhado Munisipaliteit

Rybewyse moet elders hernu word

 

News  Date: 27 February 2016

 

Vir die afsienbare toekoms sal inwoners van Louis Trichardt nie hul rybewyse kan hernu by die Makhado Munisipaliteit nie.

Die munisipaliteit kan tans nie enige aansoeke vir rybewyse of die hernuwings daarvan ontvang of prosesseer nie.

Daar het ietwat van ‘n verwarring ontstaan toe die munisipaliteit by navraag aangedui het dat hulle reeds vanaf November nie lisensie-aansoeke kan ontvang nie. Die Zoutpansberger was egter in besit van kwitansies waar lesers betaal het vir die hernuwing van hul rybewyse in Desember en Januarie.

Die munisipaliteit het gaan ondersoek instel en bevestig dat hulle wel nog oor die Desember-vakansie aansoeke ontvang het, ten spyte daarvan dat hul rekenaars buite werking is. Aansoeke is gedoen deur dit vas te pen op kaarte en aan te stuur na Departement van Verkeer. In die verlede is aansoeke elektronies gedoen, deur middel van die departement se elektroniese aansoekterminale. Dit is juis hierdie terminale wat nou stukkend is. Dit sal eers herstel moet word voordat die munisipaliteit weer aansoeke kan ontvang.

Die kaarte waarop harde-kopié aansoeke gebring is gedurende Desember, het die munisipaliteit verduidelik, het intussen ook opgeraak.

Die bal is nou as't ware in die hande van die departement om die krisis op te los. “Die masjien behoort aan die departement en ons moet nou geduldig wag totdat hulle dit kom regmaak,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi Dinsdag gesê. Hy het egter bevestig dat inwoners steeds aansoek kan doen vir hul tydelike bestuurslisensies by die munisipaliteit. Inwoners wat hulle lisensie moet hernu, of aansoek moet bring vir ‘n nuwe lisensie, word verwys na die verkeerskantore op Thohoyandou, Soekmekaar, Vuwani, Elim en Musina vir die volgende paar maande.

Intussen kan dié inwoners wat sedert November verlede jaar hul lisensies hernu het, dit gaan afhaal by die munisipale toetsterrein op die hoek van Rissik- en Kroghstraat.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines