

ADVERTISEMENT:

Belangrike sake wat elkeen raak is in gebed voor die Here gebring tydens 'n biddag vir Suid-Afrika. Mense het agterna vertel hoe wonderlik dit was om oor kerk- en kultuurgrense heen saam te bid.
News Date: 03 March 2016
Louis Trichardt het Sondag deelgeneem aan ‘n landswye gebedsinisatief om vir Suid-Afrika te bid.
Om 14:00, ‘n gewilde tyd vir ‘n Sondagmiddagslapie, het bidders vanuit verskillende kerke by die Apostoliese Geloofsending (AGS) in Munnikstraat byeengekom, nadat die heerlike reënweer die buitelug byeenkoms genoodsaak het om te skuif. Die doel was om vir belangrike sake in die land te bid. Ds. Dick Mahné van die Metodistekerk is deur AGS pastoor Leonie Meyfarth (plaaslike koördineerder van die projek) gevra om voor te gaan.
“Die terugvoer wat ek gekry het, is dat die mense dit baie geniet het en ‘n geseënde tyd beleef het. Dit was veral vir hulle wonderlik dat mense vanuit verskillende kerke en kultuurgroepe saam die Here se aangesig gesoek het oor sake wat almal raak,” het past. Meyfarth Maandag gesê.
Dieselfde formaat is landswyd gevolg, met gebede wat vooraf opgeneem is wat telkens gevolg is deur kort gebede deur die aanwesiges. Dr. Isak Burger het voorgegaan om God te dank vir Sy liefde en genade en het namens die land sondebelydenis gedoen en verklaar dat Suid-Afrika na God terugdraai. Sy gebed vir die regering, die verkiesings en die regstelsel, is deur bidders in groepies voortgesit. Angus Buchan het op sy bekende kragtige wyse die landbou, boere en hul veiligheid voor die Here gebring, asook die kerk (die liggaam van Christus) en die redding van verlore siele. Die groepe het by hom aangesluit om vir eerlikheid en integriteit te bid, asook vir die besigheidsektor en die ekonomie. Lindie Strydom het vroue en weeskinders voor die Here gebring en ingetree teen sedeloosheid, armoede en misbruik. Zane Meas het mans in die naam van Jesus opgeroep om hul plekke as koning, priester en profeet in hul huise vol te staan, waarna die bidders in hul groepies die jeug en onderwys voor die Here gebring het. Daar is spesiaal ingetree vir die huidige onrus op universiteitskampusse. Past. Afrika Mhlope het vir vrede, eenheid en liefde gebid en namens die land vergifnis gevra vir betrokkenheid in toordery en praktyke wat geestelike bindings meebring.
Die Louis Trichardt-bidders was deel van meer as 50 gebedsamekomste oor die hele land. Die gebedsinisiatief is genoem up4sa (United Prayer for South Africa) en is gebore in die hart van past. Robbie Black van Oos-Londen. “Gebed is die basis vir alle oplossings. Die skrif wat die duidelikste met my gepraat het, is Hebreërs 4:16, wat sê, ‘Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word,” het pastoor Black gesê.
Ds. Mahné het gevra dat alle kerke die dag en tyd wanneer hul gebedsgroepe vergader aan die leraarsforum sal stuur, sodat daar gekyk kan word na moontlike samewerking. Die inligting kan aangestuur word na [email protected], waarna dit verder gekanaliseer sal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
