ADVERTISEMENT:

 

Nico Scheepers, 'n oud-Triegie, met die Fiëstas-toekenning wat hy ontvang het vir Beste Teater Ontwerp vir sy verhoogstuk Amper, Vrystaat. Foto: kykNET.

Oud-Triegie maak opslae in uitvoerende kunste

 

News  Date: 03 March 2016

 

‘n Oud-Triegie is vinnig besig om vir homself ‘n naam uit te kerf in die wêreld van die uitvoerende kunste.

Nico Scheepers het ‘n Fiëstas-toekenning opgeraap vir sy werk as dramaturg. Die kykNet Fiëstas-toekennings, wat sedert 2011 die beste Afrikaanse kunstenaars en produksies vereer, is op 18 Februarie tydens ‘n spoggerige geleentheid op ‘n blou tapyt by die Staatsteater in Pretoria gehou.

Die teater was van hoek tot kant gepak met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. “Dit was vir my ‘n groot eer om saam met soveel ander talentvolle mense benoem te wees, en natuurlik ‘n heerlike verrassing om te wen. Dit is ‘n groot eer,” het Nico verlede week telefonies vanuit die Kaap gesê.

Hy woon in die mooiste Kaap, waar hy sy kreatiwiteit daagliks uitleef, nie net as dramaturg  nie, maar ook as ‘n liedjieskrywer en musikant.  

Die teaterstuk waarvoor hy sy toekenning ontvang het, was Amper, Vrystaat.

Hierdie stuk handel oor drie susters wat oor die jare vervreemd geraak het van mekaar. Een Saterdag ontmoet hulle mekaar weer by hul ma se begrafnis in Amper, ‘n dorpie in die Vrystaat, duskant nêrens. Daarby is daar vreemde omstandighede rondom hulle ma se afsterwe en dit het die kontrei aan die praat. In die teaterwêreld word Amper, Vrystaat beskryf as ‘n komedie met hart en ‘n storie met waarheid wat elke mens sal raak.

Behalwe vir die toekenning wat Nico ontvang het vir Beste Teaterontwerp, het Amper, Vrystaat nog vyf ander benoemings ontvang in die kategorieë Beste Aktrise (Milan Murray), Beste Regie, Beste Nuut Geskepte Afrikaanse Produksie en Beste Aanbieding.

Dit is ook nie die eerste prys wat Nico wen vir Amper, Vrystaat nie. In 2015 is die stuk aangewys as die Beste Debuutproduksie tydens die Vrystaatse Kunstefees.

Plaaslik sal lesers vir Nico onthou toe hy aktief betrokke was by Hoërskool Louis Trichardt se toneelgroep. Hy het vir drie jaar toneelstukke vir die skool se toneelgroep geskryf wat opslae gemaak het by die jaarlikse Clover Aardklop Tienertoneelfees. In 2010 wen die stuk Kolom en die daaropvolgende jaar wen Loodballon. Sy laaste stuk vir Triegies, Atlas, het ‘n tweede plek verower. Vir al drie die toneelstukke is Nico ook aangewys as beste regisseur van ‘n tienertoneelstuk.

Nico beskou homself is ‘n Triegie in murg en been. Hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Louis Trichardt voltooi, en later drama geswot aan die Universiteit van Pretoria. Tans is hy nog steeds betrokke by tienertoneel by die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Kaap. 

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines