

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 04 March 2016
Inwoners van die Soutpansberg moet hulle nie laat flous deur die pragtige mooi groen natuurskoon nie – die streek is steeds vasgevang in die greep van ‘n ernstige droogtetoestand, soos baie dele elders in die land.
Dit is die waarskuwing van boere ten spyte van die lekker nat weersomstandighede van die afgelope week.
“Ons het op die oomblik ‘n groen droogte – dit lyk mooi groen, maar die droogte is nog ver van verby. As ons nie binnekort goeie reën gaan kry nie, sal daar beslis ‘n afname wees in die oeste vir die volgende jaar,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van Levubu Boerevereniging, gesê. Tog is hy baie dankbaar vir die welkome reën van die afgelope week. “Die reën het oor ‘n redelike groot gebied van die Soutpansberg geval. Verder weg van die berg, in die rigting van Vuwani, het dit minder gereën, so 22mm, en in die Ratombo-omgewing is daar weer meters wat 90mm reën gekry het. Die Levuburivier is egter nog droog en baie boere kan nie meer water daaruit onttrek nie,” het Havinga gesê.
Mnr. Fritz Ahrens van die Louis Trichardt Boerevereniging het ook goeie neerslae gerapporteer. Op die plaas Sterkstroom is 45 mm gemeet en op die plaas Welgevonden 36 mm. “Dit het lekker saggies en deurdringend gereën. Dit is baie goed vir die beesweidings, maar ons kort nog reën voor die winter om vir ons ‘n oes van subtropiese vrugte en neute te besorg. Die ondergrondse watertafel is ook nie opgevul nie en dit is vir die toekoms ‘n groot bekommernis,” het Ahrens gesê.
In die Waterpoort-omgewing lyk dinge steeds maar slegs vir boere, met lesings van tussen 3mm en 20mm wat vir die afgelope week gerapporteer is. In die Bandelierkop-omgewing is lesings van tussen 1mm en 100mm geneem. “Daar was kol-kol harde buie gewees en die eenhede het binne ‘n halfuur geval.
"Die reën was baie welkom en dit help altyd, al is dit hoe min. Ons is egter nog nie uit die moeilikheid nie. Weiding lyk nie soos wat dit moet lyk hierdie tyd van die seisoen nie. Daar is darem nog hitte wat groei sal stimuleer voor die winter aanbreek. Nog opvolgreën is dus nodig, anders gaan ons dit nie dié winter maak nie … Die landswye droogtetoestand het boere nog steeds in ‘n greep. Ons is nog ver van gered af,” het mnr. Brett Shulman van die Bandelierkop Boerevereniging gesê.
Intussen begin verbruikers reeds die knyp voel van stygende pryse op landbouprodukte, en die prentjie beloof om nog slegter te lyk in die nabye toekoms. Buiten vir die prys van vrugte en groente wat dramaties gestyg het (in Louis Trichardt kos ‘n 10kg sakkie aartappels nou al bykans R100), is die onlangse aankondiging in die styging van vleispryse ook nie goeie nuus vir verbruikers nie. Dit alles is teweeggebring deur die huidige droogtetoestand in die land, wat as die ergste in net meer as 100 jaar beskou word.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens hou sedert 1904 rekord van die gemiddelde reënval vir die hele Suid-Afrika. Volgens hierdie rekord is die gemiddelde reënval vir Suid-Afrika 608 mm per jaar.
Voorwaar was 2015 ‘n droë jaar, met die laagste gemiddelde reënval ooit sedert 1904 wat vir die periode Januarie tot Desember van verlede jaar aangeteken is. Die gemiddeld was ‘n skamele 403 mm. Buiten vir 2015, het die jaarlikse gemiddelde reënvalsyfer slegs 12 ander kere onder 500 mm geval, naamlik in 1945 (437 mm), 1992 (440 mm), 2003 (446 mm), 1935 (451 mm), 1919 (451 mm), 1965 (452 mm), 1926 (468 mm), 1916 (476 mm), 1927 (488 mm), 1912 (493 mm), 1982 (496 mm) en 1941 (496 mm).
Die langste periode van opeenvolgende jare (ses jaar in totaal) wat die reënvalgemiddeld onder 608 mm was, is die periode 1944 tot 1945. Die volgende twee langste periodes was twee vier-jaar periodes tussen 1930 en 1933 en weer tussen 2012 en 2015. Alhoewel die laagste gemiddelde reënval vir Suid-Afrika tussen Januarie en Desember 2015 gemeet is, word die periode 1930 tot 1933 egter steeds geag die droogste tydperk ooit in die land te wees sedert 1904.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
