ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Verkeerde drankie het glo gelei tot erge aanranding

 

News  Date: 07 March 2016

 

Die saak teen twee Alldays-inwoners wat glo ‘n kroegman ernstig aangerand het, het hervat in die Louis Trichardt Streekhof.

Björn Graham Bell (34) en Aire Waldo Marais (26), al twee van Elandshoek, staan tereg op ‘n klag van poging tot moord, alternatiewelik aanranding met die opset om ernstig te beseer en naamskending. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle op 23 November 2013 die kroegman van Monala Lodge, mnr. Swethani Albert Mudau, so erg aangerand het dat sy regterknie gebreek is en sy een oog amper uit sy oogkas gespring het. Bell en Marais het Mudau glo ook uitgeskel as ‘n k#f%r.

Die konfrontasie het glo ontstaan omdat Mudau vir die twee mans die verkeerde drankies gebring het.

Die twee mans se saak is kort ná die voorval na die Louis Trichardt Landdroshof gebring vir verhoor. Hulle saak is verskeie kere uitgestel om die polisie kans te gee om die ondersoek af te handel, en is op 4 November 2014 tydelik teruggetrek. Met die afhandeling van die ondersoek is dit weer aan die begin van Augustus verlede jaar op die rol van die Louis Trichardt Streekhof geplaas.

Bell en Marais het weer op 23 Februarie hier in die hof verskyn, waar die saak hervat het en Bell begin getuig het. Hy en Marais het reeds tydens ‘n vorige hofverskyning verlede jaar onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

Volgens Bell was hy saam met Marais by die lodge. Hulle het van At se Gat, ‘n kuierplek op Alldays, gekom om ‘n drankie te drink by die lodge. Bell het getuig dat hulle ‘n Captain Morgan-en-Coke-drankie elk bestel het, maar dat hy agtergekom het Mudau het ‘n fout gemaak en ‘n ander tipe rum ingegooi het.

Bell het gesê hy het vir die regte bestelling gevra, en geweier om te betaal vir die fout wat Mudau gemaak het. Hy het opgestaan en die kroeg verlaat en was op pad om terug te gaan na At se Gat.

Terwyl hy in die parkeerarea was, het Bell getuig, het hy met ‘n ander swartman, Alex, gesels. Bell het hom ‘n k#f%r genoem, maar gesê dat hy Alex al lank ken en dit as ‘n grap bedoel was. “Ek het nie besef dat die klaer [Mudau] agter my gestaan het nie,” het Bell getuig. “Ek het nie na hom verwys nie, maar na Alex.”

Mudau het toe vir Bell gesê hy is nie ‘n k#f%r nie, en daar het ‘n woordewisseling ontstaan, waartydens Mudau die drankies (wat Bell geweier het om voor te betaal) op Bell uitgegooi het.

Dit was toe dat Bell losgetrek het en Mudau deur die gesig geklap het met sy plat hand. Mudau het toe weggehardloop. Marais het saam met die ander mense wat in die kroeg was na buite gekom om te kyk wat aangaan.

Net toe, het Bell getuig, het Mudau teruggekeer met twee klippe in sy hand. ‘n Verdere woordewisseling het ontstaan en Mudau het toe gemik om Marais in die gesig te gooi met die klippe. Bell sê hy was net betyds om Marais weg te druk, en die klippe het hom op sy bors en maag getref.

Marais het tussenbeide getree, waarna Mudau terug na die lodge gehardloop het. Volgens Bell het hy, behalwe vir die klap, nie vir Mudau verder aangerand nie.

Mudau het met die terughardloop glo oor ‘n trappie gestruikel en geval. “Ek het hom na die kombuis van die lodge agtervolg, omdat ek bang was hy kan dalk iets anders kry om my mee seer te maak,” het Bell getuig.

Mudau het, volgens Bell, ‘n mes gevat toe hy in die kombuis was. Bell het toe die mes probeer afvat by Mudau, en in die proses het hy hom geslaan met die vuis. Hy het ontken dat hy Mudau baie hard geslaan het en beweer hy het net sy vuiste gebruik het om te keer dat hy met die mes raak gesteek word.

Me. Stella en mnr. Pieter Botes het ná Bell vir die Staat getuig. Volgens hulle getuienis het hulle die bakleiery in die kombuis gehoor en gaan ondersoek instel. Me. Botes het gesê sy het gesien hoe Bell vir Mudau vasdruk op die vloer met sy een hand en met die ander hand hom geslaan het. Marais het vir Mudau geskop.

“Hy [Mudau] het plat op die vloer gelê; hy kon homself nie verder verdedig nie. Hy is klein gebou en hulle is twee groot, sterk mans,” het Me. Botes getuig. Sy het die geveg probeer stop, maar die twee mans het haar nie gehoor nie, selfs nie toe sy ‘n paplepel gegryp het en vir Bell daarmee oor die kop geslaan het nie.

Mnr. Botes, wat die eienaar van die Lodge is, het getuig dat toe hy in die kombuis gekom het, gehoor het hoe Bell vir Mudau sê: “K#f%rtjie, vandag bliksem ek jou dood.”

Nadat mnr. Botes vir Bell en Marais sover kon kry om te stop, moes hy ‘n ambulans bel om Mudau te behandel. Mudau, het mnr. Botes gesê, kon nie opstaan nie, en daar was net bloed orals op die kombuisvloer. “Sy linkeroog het uitgepeul,” het mnr. Botes getuig in die hof. Hy het ook die polisie geskakel om te kom ondersoek instel.

Nadat hulle getuienis afgehandel is, het die hof verdaag. Die saak is uitgestel tot 9 en 10 Mei, sodat Bell en Marais se regsverteenwoordigers hul eie getuienis kan bring.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines