ADVERTISEMENT:

 

Een van die twee Fidelity-voertuie, waar dit tot stilstand gedwing is tydens ‘n waaghalsige transitoroof Vrydagoggend op die Makhado/ Thohoyandou-pad.

Vier gewond in transitoroof

 

News  Date: 16 September 2005

 

MAKHADO – Vier sekuriteitsbeamptes van Fidelity Guards is Vrydag (9de) gewond tydens ‘n waaghalsige transitoroof op die Makhado/Thohoyandou-pad. Dit was een van twee rooftogte die afgelope week.

Die polisie, sowel as mnr. Johan Engelbrect (bestuurder van die plaaslike Fidelity-tak), is dit eens dat Vrydag se rooftog baie goed beplan was. Daar word ook gespekuleer dat van die swaargewapende rowers professionele skerpskutters was.

Twee van Fidelity se voertuie was vanaf Makhado na Thohoyandou onderweg om kontant af te lewer by verskeie banke in Thohoyandou. Die voorval het net na 05:00 plaasgevind.

Toe die voertuie die T-aansluiting by die Albasinidam nader, het die wagte skielik drie voertuie agter hulle opgemerk wat in dieselfde rigting beweeg het. Die voertuie het hulle van agter ingejaag en skielik het die skote van alle kante af begin klap.

Te midde van ‘n wilde vuurgeveg is die bande van Fidelity se begeleidingsvoertuig uitgeskiet, wat veroorsaak het dat die bestuurder van die voertuig noodgedwonge moes stop aangesien die voertuig buite beheer begin tol het.

Die rowers het al skietende na die begeleidingsvoertuig gestorm. Mnr. Michael Majudla, een van die sekuriteitsbeamptes in die voertuig, is gedwing om die voertuig oop te sluit, waarna dit deur die aanvallers deursoek is. Daar is ook geld van hom geëis. Die rowers is egter meegedeel dat daar geen geld in die voertuig is nie. Hierop is mnr. Majudla tromp-op in die sy geskiet.

Die rowers het daarna die voorste sekuriteitsvoertuig agterna gesit. Dié voertuig se bande is ook na ‘n wilde skietery met aanvalsgewere uitgeskiet en dit is tot stilstand gedwing.

Een sekuriteitsbeampte is in die bene en regterknie gewond. ‘n Ander een is deur sy vinger geskiet. ‘n Derde sekuriteitsbeampte is ook in die bene geskiet.

Die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig is beveel om die motorsleutels, sowel as dié van die kluis in die voertuig, te oorhandig. Daarna het die rowers met ‘n onbekende bedrag geld en ook die vyf pistole op die vlug geslaan.

Die toneel waar die twee voertuie tot stilstand gedwing is, was besaai met R5- en AK47-patroon doppies. ‘n Verbygaande motoris het byna omgekom, nadat ‘n dwaalkoeël sy voertuig getref het en dit ook tot stilstand gedwing is.

Die beseerde sekuriteitsbeamptes is na die Elim hospitaal geneem. Twee van hulle is reeds ontslaan. Na verneem word sal een van die beseerde beamptes, mnr. Quinten Whitfield, nog ‘n geruime tyd in die hospitaal vertoef. Hy is Maandagaand vir ‘n tweede keer na die teater, sodat sy wonde skoongemaak kon word.

Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak nie. Kapt. Mashada Malelo, ‘n woordvoerder van die SAPD in Thohoyandou, het ‘n beroep gedoen op lede van die publiek om na vore te kom indien hulle inligting oor die voorval het. Hy kan geskakel word by tel. 082 451 7172

In nog ‘n voorval is ‘n veiligheidsvoertuig Maandag (12de) om ongeveer 14:00 voor Standard Bank in Kroghstraat beroof. Volgens ‘n ooggetuie, mnr. Saayman Nengovhela, wat net uit die bank gekom het, is hy begroet deur ‘n gegil en geskreeu, met voetgangers wat vinnig probeer wegkom het. Hy het oorbluf gaan staan toe hy sien hoe iemand ‘n wag by die motor met ‘n geweer aanhou en ‘n ander een besig was om ‘n sak uit die geldtrommel te haal. Een rower het, in sy poging om weg te kom, reg op Nengovhela afgehardloop. Hy was so verskrik dat hy nie in staat was om pad te gee nie. Die rower het hom onderstebo gehardloop. Hy sê hy was net van twee rowers bewus, maar omstanders het gesê daar was vyf. Die polisie het later die voertuig wat in die rooftog gebruik was in ‘n oop stuk veld in Malherbestraat opgespoor. By nadere ondersoek is daar gevind dat die voertuig voorheen as gesteel aangemeld is.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines