ADVERTISEMENT:

 

Besighede moet by munisipaliteit registreer

 

News  Date: 23 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Verwarrende munisipale omsendbrief aan plaaslike sakeondernemings is besig om opslae te maak en moes inderhaas teruggetrek word.

Die omstrede omsendbrief is onderteken deur die Direkteur Gemeenskapsdienste van die Makhado Munisipaliteit, Mnr. M.F. Musitha.

In die voortydige omsendbrief word sakeondernemings aangesê om ingevolge nuwe provinsiale wetgewing voor 31 Mei aansoek te doen vir die registrasie van hul ondernemings. Dit meld voorts dat, indien die aansoek suksesvol is, 'n registrasiesertifikaat aan die onderneming uitgereik sal word. Die omstrede omsendbrief sluit af met die uitdruklike waarskuwing dat die besigheid andersins verbied kan word om sake te bedryf.

Sakelui, wat in die munisipale omsendbrief gedreig word dat hul besighede gesluit kan word as hulle nie voor 31 Mei ingevolge die nuwe wetgewing herregistreer nie, word in die brief aangesê om onverwyld by die plaaslike munisipale kantoor aan te doen om aansoekvorms vir registrasie te bekom. Navraag by die munisipale kantore het egter vandeesweek aan die lig gebring dat geen sodanige registrasievorm bestaan nie.

By die Departement Finansies in Polokwane (Pietersburg) het 'n woordvoerder by navraag bevestig dat die munisipaliteit opdrag gekry het om die gewraakte omsendbrief terug te trek omdat dit voortydig en uit pas is met die gees en gesindheid van die betrokke wetgewing.

"Die doel van die nuwe wetgewing is juis om bestaande verwarring uit die weg te ruim en gesindhede te verbeter," het die woordvoerder gesê. Hy het beklemtoon dat die nodige regulasies om die wet te kan toepas, nog nie in plek is nie.

Die nuwe Limpopo Wet op Besigheidsregistrasie, 2003, is in Februarie vanjaar in die amptelike provinsiale gazette gepubliseer, nadat insette van uiteenlopende rolspelers aangevra is. Dit maak voorsiening vir die stigting van 'n Direktoraat van Besigheidsregistrasie en van Besigheidsregistrasiesentrums.Die doel van die wetgewing is om die bevoegdheid om besighede te registreer aan plaaslike regerings oor te dra en om 'n vereenvoudigde wyse van registrasie daar te stel sodat dit vir almal maklik sal wees om deel te word van die formele besigheidsektor. Dit is ook 'n poging om die korporatiewe verhoudings tussen die provinsiale regering, die plaaslike regering en die besigheidsektor te verbeter. Dit vervang verwarrende verouderde wetgewing. Die Lebowa Wet op Besigheid en Handeldryf, 1977, die Gazankulu Wet op Besigheid en Handeldryf, l979, die Venda Wet op Besigheid en Handeldryf, 1984 en die Noordelike Provinsie Wet op Besighede, 1996, word herroep.

Konsepregulasies vir die toepassing van die nuwe wet sal na verwagting nog vandeesweek gereed wees. Die konsep sal dan eers aan alle rolspelers voorgelê moet word vir die nodige insette, voordat dit gefinaliseer kan word.

Die Vhembe-distrik, waarbinne die Makhado Munisipaliteit val, is gekies om die nuwe wetgewing en regulasies van stapel te laat loop. Die loodsprojek vir die implementering van die wetgewing sal ingevolge die nuwe wetgewing behartig word deur besigheidregistrasiesentrums wat in bevoegde munisipaliteite, soos Makhado Munisipaliteit, gesetel sal wees.

As oorgangsmaatreël sal alle bestaande besigheidsregistrasiesertifikate of lisensies wat uitgereik is kragtens die herroepte wette, beskou word as besigheidsregistrasiesertifikate uitgereik kragtens die nuwe wet. Sulke sertifikate of lisensies sal geldig wees vir 'n tydperk van 12 maande na die aanvang van hierdie nuwe wet.

'n Persoon wat 'n besigheid bedryf onder hierdie wet, moet daardie besigheid registreer binne 'n tydperk van 12 maande na die aanvang van die wet. Die registrasiesertifikate sal jaarliks hernieu moet word teen fooie wat nog vasgestel moet word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines