ADVERTISEMENT:

 

Appèl teen regter se besluit

 

News  Date: 23 September 2005

 

MAKHADO – Die Hooggeregshof se uitspraak oor die dorp se naamsverandering gaan in die Appèlhof getoets word.

Op ‘n vergadering van die Voorsittersvereniging (VV) is eenparig besluit om appèl aan te teken teen die uitspraak van regter M. K. Legodi. Dié regter van die Hooggeregshof in Pretoria het op 8 September die VV se hofaansoek teen die naamsverandering van die dorp met koste van die hand gewys.

Die voorsitter van die VV, mnr. André Naudé, het Donderdag (15de) op ‘n vergadering herbeklemtoon dat die saak gaan oor die uiters belangrike beginsels van eenheid, versoening, deursigtigheid en billike, gesonde, openbare bestuur. Die beswaar gaan teen ‘n proses wat nie korrek, billik en regverdig gehanteer is nie. Dit is nie gemik teen enige persoon of groep nie.

Volgens beskikbare regsmenings is daar in die Hooggeregshof se uitspraak verskeie moontlike foutpunte en is dit baie waarskynlik dat die Appèlhof in Bloemfontein die regter se uitspraak ter syde kan stel.

Te midde van die vergadering se eenparige besluit om voort te gaan met die appèlsaak, was daar net een persoon wat buite stemming gebly het. Alle instansies is intussen versoek om geen naamsveranderings in die dorp aan te bring nie, in afwagting van die Appèlhof se uitspraak.

Op dieselfde vergadering het die VV ferm standpunt ingeneem teen die voorval waarin die nuutonthulde Makhado-standbeeld deur vandale met verf besmeer is. Die vereniging het ‘n mosie aanvaar waarin hy homself distansieer van enige vorm van vandalisme en wetteloosheid.

“Ons verwerp die onsensitiewe en beledigende optrede en hantering van die kultuursimbole van alle groepe,” lui die mosie. In die bespreking van die mosie het een deelnemer pertinent melding gemaak van die wyse waarop die plaaslike owerheid die borsbeeld van Louis Trichardt op beledigende wyse onseremoniëel vanaf sy ereposisie in die voorportaal van die Burgersentrum verwyder het en tussen ‘n klomp gereedskap stoor. Daar is ook melding gemaak van die historiese skilderye in die burgersentrum wat op dieselfde onverskillige wyse verwyder is. Die skilderye verbeeld verskeie aspekte van die Voortrekkerpioniers se kultuurbedrywighede in die omgewing waar later ‘n dorp aangelê is ter ere van die visioenêre en versoenende Voortrekkerleier, Louis Trichardt.

“Ons doen ‘n beroep op almal in die gemeenskap om die kultuursimbole van alle bevolkingsgroepe te respekteer,” lui die mosie.

‘n Amptelike beleidsdokument vir die organisasie is aan die begin van die vergadering aanvaar.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines