

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 September 2005
MAKHADO – Na afloop van die onlangse vandalistiese daad, waar vandale die standbeeld van Koning Makhado in oranje, wit en blou geverf het, is die mening van inwoners oor die insident gevra.
Die standbeeld van koning Makhado is onthul as deel van die provinsie se erfenisvieringe. Die standbeeld het nie eers ‘n week gestaan nie, toe dit deur vandale in die drie kleure van die ou Suid-Afrikaanse vlag geverf het. Die verwery van die standbeeld het wye reaksie binne en buite die gemeenskap ontlok. Die groter deel van die gemeenskap was heeltemal teen die daad gekant en het hul hoop uitgespreek dat die oortreders gevang sal word. Ander inwoners het weer die humoristiese kant van die affêre gesien.
‘n Paar van die menings wat geopper is, was:
“Ek dink dit is ‘n goeie ding, want die Afrikaners se kultuur word nie in ag geneem nie,” sê mnr. LJ Coetzee.
“Dit was goed geverf, maar is met slegte smaak gedoen en die oortreders is dalk nie eers wit nie,” was die mening van mnr. Rashid.
“Dit is ‘n slegte ding en ‘n mors van tyd,” was die mening van mnr. M. Kalan.
“Die polisieteenwoordigheid by die standbeeld was verbasend, as dit in ag geneem word dat hulle sukkel om op meer ernstiger misdade te reageer, soos moord,” was mnr. A. Wepener se opinie.
“Ek hou glad nie van sulke dinge nie, want dit is ongewens en is ‘n beskadiging van iemand se privaatheid,” was mev. Seegers se mening.
“Dit is politiek; as iemand teen die standbeeld is, moet dit vooraf teengestaan word,” sê mnr. N. Masipa.
“Die mense wat dit gedoen het, was dalk nie ordentlik ingelig oor die standbeeld nie,” was mnr. H. R. Mabasa se gevoel.
“Dit is nie ‘n goeie daad nie; dit is dalk rassisme of iemand wat die ou regering wil terug hê,” sê mnr. M. Chewe.
“Dit is dalk ‘n individu wat nie verandering wil aanvaar nie,” het mnr. Maingenye gesê.
“Wat gebeur het, is heeltemal onaanvaarbaar en dit toon dat rassisme nog bestaan,” was mnr. D. Raliphada se opinie.
“As deel van my erfenis het ek baie oor Koning Makhado geleer en as mense teen dit is moet hulle deur die koerante appél aanteken en nie hulle tot vandalisme wend nie,” is mnr. M. Kwapa se standpunt.
“Dit het my so geraak dat ek nie eers kon eet nie; die daad dui daarop dat sekere mense nie die regering respekteer nie,” sê mev. M. Rapunga.
“Die vandale het niks respek vir die standbeeld getoon nie en moet gestraf word,” aldus mnr. G. Mugovhani.
“Enige daad van vandalisme is onaanvaarbaar en die wat verantwoordelik is moet die gevolge daarvan dra,” sê mnr. A. G. H. Ayob.
“Dit dui daarop dat sekere groepe binne die gemeenskap teen verandering is en dat hulle nie respek het vir die plaaslike of provinsiale regering nie,” was mnr. S. Maroge se mening.
“Wat gebeur het is ‘n belediging vir die eerbare koning en die twee groepe wat die naamsverandering teengestaan het, moet ondersoek word,” het mnr. S. Muavha aangevoer.
“Dié verantwoordelik vir die vandalistiese daad is allergies vir verandering en dit is ‘n belediging vir ons demokrasie en hulle hoort nie in die nuwe Suid-Afrika nie,” sê mnr. T. Tshibvumo.
“Hoekom pronk die Makhado beeld so, terwyl Louis Trichardt se beeld in Fort Hendrina geprop is?” het mnr. D. Coetzee gevra.
Nog ‘n persoon wat vir kommentaar gevra is, was mnr. Gideon Meiring. Hy het heelwat te sê gehad:
“Onder normale omstandighede, met wedersydse respek as norm, kan ek as voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-Unie nie anders as om enige aantasting van kultuurgoedere te veroordeel nie. Die realiteit van ongekende misdaad, gebrekkige dienslewering en einde¬lose politiesgedrewe naamsverandering dui, myns insiens, op ‘n abnormale omgewing met totale wanaanwending van nuutgevonde mag. Dus, dit is die forseerders van transformasie wat die blaam moet dra en moes sodanige reaksie vooraf verreken gewees het. Daarvan getuig die nuwe sekuriteitsheining, ligte, palissades en wagte. As ‘n individu irriteer die gekerm van hoogbetaalde segsmanne my eindeloos. Die gemaklike omgaan met barbarisme en boewery dui op ‘n kort geheue – duidelik word die wrede halsnoermoorde, verraderlike bomme in eetplekke en selfs kerke gerieflik vergeet – die ‘struggle’ het dit mos goed gemaak. Die afhaal van ons kultuurerfenis wat standbeelde soos dié van Louis Trichardt insluit, word goedgepraat en word dit wragtig van ons verwag om mee te doen – wat dink die mense van ons! Wat my egter onrustig stem is die eiebelang-gedrewenes onder ons wat nie gou genoeg reklame kon maak vir hulle eie sak nie. Op die trant van die geskiedenis herhaal homself hoop ek van harte dat ons regeerders betyds kennisneem en spoedige regstellings maak in ‘n eerlike poging om ons jong ‘demokrasie’ te laat slaag. Van respek gepraat – dit word verdien; hanteer andere soos jy hanteer wil wees en dit kom vanself. Wat my betref, bly Louis Trichardt, Louis Trichardt en ek bedoel dit.”

ADVERTISEMENT:
