ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Georganiseerde landbou vestig veiligheidstruktuur

 

News  Date: 18 March 2016

 

Landelike veiligheid in Limpopo het ‘n nuwe tydvak betree toe die landelike veiligheidstrukture van TLU SA Noord en Agri Limpopo op 8 Maart in Polokwane ‘n gesamentlike slypskool gehou het om te besin oor landelike veiligheid.

Volgens ‘n gesamentlike persverklaring is die bestaande en goed-ontwikkelde landelike veiligheidstrukture van die twee georganiseerde landbou-organisasies nog altyd ‘n sterk groepering. “Hierdie goed-georganiseerde landelike veiligheidstrukture is nou saamgevoeg, waaruit Limpopo Landelike Veiligheid Struktuur tot stand gekom het,” lees die verklaring.

Die nuwe Limpopo Landelike Veiligheid Struktuur sal ten nouste met die SAPD saamwerk, vanaf polisiestasievlak tot by die SAPD se provinsiale bevelstruktuur, waar daar reeds sedert 2015 goeie betrekkinge tussen die SAPD se topbestuur en georganiseerde landbou bestaan. “Hierdie betrekkinge sal deur die nuwe struktuur voortgesit en uitgebou word,” sê die organisasies.

Die slypskool, met ‘n bekende in landelike veiligheidskringe, mnr. Japie van der Goot, as fasiliteerder, het kleinere probleme geïdentifiseer wat gesamentlik aangespreek en opgelos sal word. Bestaande hulpmiddele en mannekrag sal nou meer gekoördineerd aangewend word. Gesamentlike kommunikasiekanale sal gevestig word en ander gemeenskaplike probleme, wat van area tot area verskil, sal nou onder die nuutgevormde, sterker groep hanteer word. “Limpopo Landelike Veiligheid Struktuur sal ook in daardie gebiede waar landelike veiligheid nog nie voldoende gevestig is nie, aandag gee,” lees die verklaring.

Mnre. Willem van Jaarsveld van Agri Limpopo en Drickus Botha van TLU SA Noord het albei hulle dank en waardering teenoor hulle lede uitgespreek vir die positiewe wyse waarop hierdie gemeenskaplike landelike probleem die hoof gebied kan word. Hulle het ook ‘n beroep gedoen op landelike inwoners wat nie deel van georganiseerde landboustrukture vorm nie om die inisiatief te steun tot voorkoming van misdaad in die landelike gebied van Limpopo.

Die nuutgestigte Limpopo Landelike Veiligheid Struktuur wil ook ten nouste met alle GPF-groeperinge wat  teenwoordig was, asook ander wat nie daar was nie, saamwerk om die veiligheid van almal in die Limpopo landelike gebiede te help verseker. Privaat sekuriteitsmaatskappye wat teenwoordig was, het ook hulle steun aan die Limpopo Landelike Veiligheid Struktuur herbevestig. “Samewerking tussen hierdie groepe is van uiterste belang om misdaad in landelike gebiede te voorkom,” het die organisasies gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines