ADVERTISEMENT:

 

Marcel van Niekerk in die rol as Adam toe hy vir die eerste keer Amarikana opgevoer het hier in Louis Trichardt.

Plaaslike teaterstuk opgevoer by Vrystaatse Kunstefees

 

News  Date: 18 March 2016

 

‘n Teaterstuk wat eerste te sien was hier in Louis Trichardt is uitgenooi na die Vrystaatse Kunstefees.

Amarikana, uit die pen van plaaslike verhoogman Marcel van Niekerk, sal later vanjaar by dié gesogte kunstefees opgevoer word.

Marcel is bekend vir sy storietalent en van die toneelstukke wat hy al geskryf het, sluit in Stemtoon, Harnas en Ses209 - almal vir die tienertoneel verhoog. Amarikana verskil in baie opsigte van sy vorige stukke, maar bied nog steeds dieper stof tot nadenke vir sy gehoor.

Die wyse waarop hy die teks aanbied wys ook hoe Marcel die lewe dophou. Hy hou daagliks boek van die interessante stories van die dag, of soos hy dit beskryf, “Daardie stories wat gewoonlik afgeskuif word na die agterblaaie van ‘n koerant.”

In Amarikana vertolk Marcel die rol van die verteller-hoofkarakter Adam, wat sy storie deel met Jane en die gehoor. Die inspirasie vir die stuk was die bloedbad wat ontstaan het tydens stakings en protesoptogte by die Lonminmyn naby Rustenburg in Augustus 2012. Tydens dié opstand is 44 mense dood en nog heelwat meer mense beseer.

Die Amarikana wat Marcel in die Vrystaat sal opvoer, sal in ‘n heel ander gedaante opgevoer word as toe dit verlede jaar vir die eerste keer hier in die uPCafé te sien was.

Marcel verduidelik dat hy reeds begin het om Amarikana se teks te skaaf, sodat dit met meer diepte aangebied kan word vir ‘n gehoor wat noodgedwonge verder verwyder van die verhoog is. Verder verwerk hy ook die teks om te sentreer om die metafoor “tap”. “Die koffie word getap uit ‘n boon, die myne tap uit die aarde en dag-vir-dag ook uit die myners wat ondergronds moet werk,” verduidelik Marcel.

Buiten vir die ink in sy are, is daar nóg ander verborge talente wat Marcel sal aanwend ter voorbereiding vir die Vrystaat Kunstefees. In die ope kategorie, waarin Amarikana sal deelneem, word daar van die kunstenaar verwag om ook die stelkuns, regie, musiek en bemarking te doen. Derhalwe het Marcel sommer self ingespring en die advertensieplakkaat vir Amarikana ontwerp. Die skets, wat ‘n kombinasie is van ‘n skets geverf met koffie en rekenaar grafieke en foto’s, sentreer om die tema en metafoor van Amarikana.

Onderwyl Marcel besig is met al dié voorbereidings, maak hy ook tyd om saam met die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt te oefen. Die skool se groep is uitgenooi om deel te neem aan die Reza de Wet Tienertoneelfees, wat aangebied word saam met die Vrystaat Kunstefees, ongeveer dieselfde tyd as wat Marcel Amarikana daar sal opvoer. “Dit is ‘n ongelooflike voorreg, want skole mag net deelneem op uitnodiging,” het Marcel gesê.

Hoërskool Louis Trichardt sal ‘n nuwe toneel, getiteld Transparant, opvoer by die fees. Plaaslike gehore, het Marcel belowe, sal ‘n geleentheid hê om beide stukke te sien voor dit in die Vrystaat opgevoer sal word. Datums en tye sal nader aan die tyd bekend gemaak word.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines