

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 September 2005
BUYSDORP - Die gebrek aan water is besig om inwoners van Buysdorp die mure uit te dryf. Een lid van die gemeenskap het selfs haar bondel wasgoed Johannesburg toe geneem om dit daar te gaan was.
Mevrou Veronica Cohen, wie se grond geleë is op die York pad, sê dat dit al ‘n jaar so aangaan. Mev. Cohen sê sy is ‘n oumens met artritis en stap gewoonlik vyf kilometer om te gaan wasgoed was. Sy sê dat die mense om haar water het, maar dat die waterpype na haar huis fisies gesaboteer word.
Die Cohens se plaas is een van die laastes aan die westekant van die York pad. Veronica se man, mnr. Paul Cohen, sê dat daar ongeveer ses gesinne is wat so sukkel met water.
“Ek dink wat gebeur is dat die pyp bokant ons afgesny word en ‘n stopper ingesit word, sodat ons hier heel onder nie ‘n druppel water het nie,” sê mnr. Cohen. Hy sê ook dat, as die waterfiskaal ondersoek wil instel, hy gedreig word.
Mense ontkoppel klaarblyklik die watertoevoer en gebruik dan die water om vrugteboorde en landerye nat te lei en besighede te bedryf, soos blokstene maak.
Die ondervoorsitter van die Beslote Korporasie (BK) van Buysdorp, mnr. Alexander Smail, sê dat die drukking van die water op die Buysplase net genoeg is vir huishoudelike gebruik.
“Ons het probleme met mense wat ontkoppel en ons probeer hulle aanspreek. As die mense nie gaan saamwerk en ontkoppel nie, is die komitee magteloos. Ons het die staatsaanklaer genader en hy sê daar is nie ‘n wet oor ontkoppeling nie,” sê mnr. Smail. Die plase van die Buys-familie is privaat eiendom. Mnr. Smail doen ‘n beroep op inwoners om saam te werk en nie water te ontkoppel nie.
Mnr. Cohen sê egter dat dit moet wees soos in munisipale gebied, dat mense beboet moet word en nie net ‘n mondelingse waarskuwing ontvang nie. Cohen reken dat 75% van die mense water ontkoppel.
Mnr. Simeon Buys, voorsitter van Buysdorp se BK, sê dat die mense nie aan die waterstelsel mag peuter nie, want dan word die volgende persoon benadeel. Dit sal ook die geval wees selfs al is daar ‘n nuwe waterstelsel.
Die Vhembe Distriksmunisipaliteit het reeds ‘n R2 miljoen projek goedgekeur vir die opgradering en herstel van die waterpypleiding en -sisteem op Buysdorp. Twee reservoirs word ook in die vooruitsig gestel. Die waterbron is twee standhoudende waterfonteine in die kloof.
Mnr. Smail sê dat daar op ‘n vergadering op 2 Augustus gesê is dat die waterprojek binne ‘n maand ‘n aanvang sou neem, maar dat daar nog nie tekens daarvan is nie. Dit skep ook ‘n probleem dat die projek deur ‘n projekstuurkomitee bestuur word en nie deur die BK nie. Mev. Cohen voel dat die nuwe sisteem haar nie veel gaan help as die water nog steeds ontkoppel gaan word nie.
Rakende die bestaande probleem sê mnr. Smail dat die mense gesê het dat die waterfiskale en die komitee kan inkom om ondersoek te doen en dat die waterfiskale uitgegaan het, maar dat die waterfiskale uitgejou en gedreig is en daar blykbaar op hulle geskiet is. Smail sê dat op die volgende vergadering ‘n terugrapportering van die waterfiskale ontvang sal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
