ADVERTISEMENT:

 

Twee doodgeskiet vir R7 000

 

News  Date: 07 May 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "My seun moes nie doodgaan nie ... nie so nie."

Hartseer woorde van mev. Elize Muller na die dood van haar seun, Hendrik Putter (31) in 'n gewapende roof op die Witvlag-pad verlede Vrydag. Hendrik en 'n kollega van hom, Donovan Fortuin (28), van RRS Sekuriteit is koelbloedig doodgeskiet, terwyl hulle besig was om geld in te vorder. 'n Derde kollega van hulle, Phineas Masevela, is ernstig in die aanval gewond en was teen druktyd steeds in die hospitaal.

Die aanval het omstreeks 10:00 plaasgevind. Vier swaar gewapende mans het in 'n gesteelde Fiat Uno van voor in die Toyota Tazz vasgejaag waarin die drie sekuriteitswagte op reis was. Hulle het in daardie stadium geld opgetel by slegs twee van die tien besighede wat hulle moes besoek.

Sekondes na die botsing het die vier gewapende mans op Hendrik, Donovan en Phineas losgebrand. Dit het so gou gebeur dat die drie wagte nie eers tyd gehad het om hul vuurwapens uit hul skedes te haal nie. Een ding was egter seker: hul aanvallers was daarop uit om niemand lewend agter te laat nie. Digby 20 koeëls het die voertuig deurboor waarin die drie wagte op reis was. Hendrik en Donovan is op die toneel dood. Die rowers het kort daarna in 'n gesteelde groen BMW op die vluggeslaan met net minder as R7 000.

Hendrik word oorleef deur sy vrou, Frieda, twee kinders, Hendrik (5) en Juandre (3), sy ouers, Elize en Hilgaard Muller, en sy broers Jannie, Johan en Rudolph. Donovan word oorleef deur sy seun, Dorian (3), sy ma Natalie, sy pa Bennie en sy suster Shireen.

Verlede Vrydag se gewapende roof was die mees onlangse in 'n reeks van gewelddadige gewapende rooftogte wat in die Louis Trichardt-omgewing plaasgevind het. Dit volg op die gewapende rooftogte by Rebels Kafee en Butterfield sowat drie weke gelede. Kort voor dit is 'n jong inwoner, Frikkie Venter (25), ernstig in die nek gewond toe hy hom in 'n koeëlreën bevind het tydens 'n gewapende roof by Palm Motors.

Dat 'n mens se lewe niks meer beteken nie dat jy nêrens meer veilig is nie, is duidelik. Talle besighede, selfs groter besighede soos Solly's Discount World, was reeds die slagoffer van gewapende rooftogte die afgelope jaar. Ten spyte hiervan handhaaf die polisie steeds hul stilswye rondom die bekendmaking van misdaadstatistiek.

"Ek dink eerlikwaar die polisie weerhou doelbewus die statistiek uit vrees dat mense sal sien hulle is besig om die stryd teen misdaad te verloor," het een ongelukkige inwoner opgemerk.

Dat misdadigers besig is om die oorhand te kry op Louis Trichardt en omliggende gebiede is duidelik. Een kafee-eienaar het die week erken dat dit net nie meer die moeite werd is om veral na-uurs en oor naweke oop te bly nie.

"Die afgelope een en 'n halwe maand was daar sewe pogings om my besigheid te beroof. Dit is net nie meer die moeite werd nie," het die kafee-eienaar opgemerk. Gelukkig vir hom kon hulle in al die gevalle die rowers afskrik, hetsy deur parate optrede of deur die polisie te ontbied.

"Die dag wat Rebels beroof is, het ek gou my winkel verlaat om 'n draai te maak by die Bosveld 3-in-1 wedloop. Op pad daarna toe het ek 'n oproep ontvang van een van my personeellede wat sê dat daar 'n man is wat wil weet waar ek is, hoe laat en gaan terugkom en hoe laat ons sluit. Ek het dadelik opdrag gegee dat hulle die deure moet sluit en het teruggejaag.

Die man en 'n makker van hom wat buite die winkel wag gehou het, het toe verdwyn. Minute later het ons gehoor dat Rebels Kafee beroof is," voeg hy by.

Dat sakelui bang is, is duidelik. Soos in bogenoemde geval, ly baie winkeleienaars eerder finansiële skade deur vroeër toe te maak as om hul lewens te waag vir 'n paar rand meer. Dit is egter nie net plaaslike sakelui wat skade ly in 'n dorp waar misdaad buite beheer geraak het. Inwoners self gaan gebuk daaronder. So is 'n Indiër vrou gelukkig om te lewe, nadat sy deur vier gewapende mans in 'n wit BMW oorrompel is by 'n stopstraat naby die skouterrein terwyl sy onderweg was huis toe Dinsdagaand. Die mans het langs haar gestop, waarna een uitgespring het en by haar kar ingeklim het. Hulle het haar uit die dorp begelei op die Tohoyandoupad waar hulle haar ernstig aangerand het. Sy het verskeie snywonde opgedoen en is klaarblyklik ook verkrag. Na aanleiding hiervan is vroue gewaarsku om nie alleen rond te ry nie, veral nie na-uurs nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines