

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 March 2016
Die Soutpansberg Dorpswag is nog steeds van plan om in ‘n ooreenkoms te tree met die plaaslike tak van die burgerregte organisasie AfriForum. Nie almal stem egter saam dat dit ‘n goeie idee is nie.
‘n Informele vergadering is verlede Donderdag hier in Louis Trichardt gehou om die aangeleentheid te bespreek. Lede van AfriForum, die dorpswag, die streek se plaaswagte en die publiek was welkom om die vergadering by te woon.
Die dorpswag en AfriForum se besluit om moontlik saam te smelt is in Oktober verlede jaar bekend gemaak, maar die uitvoering van die besluit is uitgestel vanweë die skielike afsterwe van die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, mnr. Anton Peyper.
Verlede week se vergadering het ten doel gehad om belangegroepe in te lig oor die besluit. Die dorpswag se huidige voorsitter, mnr. Riaan Volschenk, het egter ná die vergadering gesê die bestuursraad het nog nie ‘n formele besluit ten opsigte van samesmelting geneem nie. ‘n Finale besluit hieroor word teen die einde van die maand verwag, maar aanduidings is dat die dorpswag wel kragte gaan saamspan met AfriForum.
Daar was egter ook tydens die vergadering teenkanting teen die besluit. Van die plaaswagte se verteenwoordigers het kapsie aangeteken teen die samesmelting. Hulle het geargumenteer dat die dorp reeds gevestigde veiligheidstrukture in plek het wat resultate lewer vanweë goeie verhoudinge wat met die polisie oor etlike jare opgebou is.
AfriForum se Limpopo organiseerder en verteenwoordiger, mnr. Hein Gonzales, het in reaksie belangegroepe probeer gerusstel met die versekering dat hulle nie sal kom oorneem nie. “Ons is hier om julle te ondersteun,” het hy gesê. “Die Soutpansberg Dorpswag is reeds ‘n gevestigde instansie, wat sterk staan,” het Gonzales gesê.
Volschenk het bygevoeg dat die dorpswag swaar sal steun op hierdie ondersteuning, en wel die regshulp wat AfriForum sal kan bied. Dit, het Volschenk verduidelik, sal nie beteken dat die dorpswag ‘n totale transformasie sal ondergaan nie. “Die dorpswag sal nog soos normaal voortgaan, en hulp en ondersteuning bied om die dorp en inwoners veilig te hou,” het Volschenk gesê. Al wat sal verander, het hy bygevoeg, is dat AfriForum voortaan opleidingsessies sal aanbied in onder meer noodhulp, die korrekte manier om ‘n misdaadtoneel te benader en selfverdediging. Dié ondersteuning sal wel kom teen ‘n prys. Lede van die dorpswag, alhoewel hulle nie verplig word nie, sal net regshulp en ondersteuning van AfriForum ontvang as hulle geregistreerde en betalende lede van AfriForum is.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
