

ADVERTISEMENT:

Die aaklige, bloedige werklikheid wat wildstropers agterlaat. Dit is al wat oorgebly het nadat stropers alles gevat het wat hulle nodig gehad het van 'n rooibokram wat in 'n draadstrik gevang is. Foto verskaf.
News Date: 24 March 2016
Terwyl meeste mense Sondae rustig by die huis verkeer, is daar geen rus vir boere wat om die uur moet bontstaan om hul vee, wild en eiendom teen 'n meedoënlose aanslag van misdaad te beskerm nie.
Soortgelyk het mnr. Bennie van der Merwe, wat op ‘n plot langs die Levubu-pad boer net buite Louis Trichardt, se Sondag begin met die nuus dat daar wild op sy plaas gejag is deur wildstropers. Dit terwyl hy en sy gesin eintlik op pad was kerk toe.
Wat hy gevind het was iets wat boere daagliks in die gesig moet staar – die probleem van onwettige jagters wat wild vang met wrede draadstrikke. Sy plaaswerkers het die geraamte van ‘n blesbok gekry. Die draadstrik was duidelik vergete deur die stropers, en die bok moes ‘n lang en pynlike dood gesterf het, voordat dit weggevrot het.
Ongelukkig het die hartseer nie daar opgehou nie. Nie te ver van die blesbok af nie, het Bennie bloed en pensmis opgemerk in die gras. Hy het nie nodig gehad om ver te soek voordat hy afgekom het op die karkasse van ‘n rooibokram en -ooi nie. Bennie vermoed dat dié twee bokke Saterdagaand in die strikke moes beland het. Die ram se vleis was alles weggedra, en net die kop en vel is agtergelaat. Om een of ander rede is die ooi se karkas net so gelos in die strik.
Bennie het die vermoede uitgespreek dat die skuldiges moontlik van die inwoners van die munisipale stortingsterrein langs die Vondeling-pad is. Hy sê dat dit nie die eerste keer is wat sy boerdery deurloop onder stropers of diewe nie. Verlede jaar moes hy noodgedwonge sy hoenderboerdery toemaak. Daar is amper daagliks hoenders by sy plaas gesteel. Nodeloos om te sê, is hy nou al raadop.
Bennie het wel die saak by die plaaslike polisie aangemeld, in die hoop dat die skuldige(s) binnekort vasgetrek sal word.
Intussen patrolleer hy saans self die plaas; nie net om die stropers op heterdaad te kan betrap nie, maar ook omdat hy vrees dat sy nuwe mielieland sak vir sak weggedra sal word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
