

ADVERTISEMENT:

Verlede Vrydag was 'n emosionele dag by Hoërskool Louis Trichardt. Ná meer as 30 jaar het juffrou Elsa Retief (Kriek) afgetree en verlaat sy die Soutpansberg. Leerlinge het op haar laaste dag 'n erewag gevorm en so afskeid geneem.
News Date: 25 March 2016
‘n Goeie onderwyser word gebore, nié gemaak nie. Verlede Vrydag, met die einde van die eerste skoolkwartaal, het Hoërskool Louis Trichardt juis van só ‘n onderwyser afskeid geneem.
Juffrou Elsa Retief, of soos meeste haar geken het as Juffrou Kriek, het verlede Vrydag na meer as drie dekades vir oulaas haar kantoor- en klaskamerdeur toegesluit. Sy en haar eggenoot, Dirk, sal eersdaags die Soutpansberge verruil vir die see.
Min mense weet dat Elsa eintlik ‘n volbloed Triegie Leeu is – syself het jare gelede by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Haar ouers, wat oorspronklik van die Vrystaat afkomstig is, het na Zambië verhuis en daar vir ‘n tyd lank geboer. Dit is ook waar sy sommer vir die hoenders op die plaas begin skool gee het, alhoewel hulle nie altyd sulke gewillige “leerlinge” was nie.
Gedurende die sestigerjare trek die Kriek-gesin terug Suid-Afrika toe en vestig hulle in Marble Hall. Met die aanbreek van haar Standard 7-skooljaar (deesdae Graad 9) het Elsa se ouers haar ingeskryf by Hoërskool Louis Trichardt. Dit het beteken dat Elsa ook in die skoolkoshuis moes woon, en net vakansies huis toe is.
Na matriek het Elsa vanaf 1976 tot 1979 klas geloop by die Onderwys Kollege in Pretoria om haar onderwysdiploma vir senior primêre fase (Standard 2 tot 8) te ontvang.
Die jaar daarop keer Elsa terug na Louis Trichardt. Haar eerste onderwyspos was by Laerskool Soutpansberg (Souties). Hier het sy alles gedoen, van konsert afrig tot die stigting van ‘n natuurklub vir die skool. Sy het egter uitgeblink op die sportveld, en alles van netbal en atletiek tot swem en selfs seunskrieket afgerig.
Ná drie jaar by Souties stel Elsa se voormalige rekeningkunde-onderwyser, mnr Pikkie Truter (later ook die skoolhoof), voor dat sy die perfekte nuwe rekeningkunde-onnie sal wees vir Hoërskool Louis Trichardt.
So het dit toe gekom dat Elsa, wat van jongs af ‘n natuurlike aanleg gehad het vir rekeningkunde, aangestel is as die interim Standerd 6 rekeningkunde-onderwysers in 1984. Twee jaar later bekom sy haar handelsdiploma aan die Onderwys Kollege vir Verdere Opleiding en word sy permanent aangestel in die pos – wat sy tot en met verlede kwartaal nog aangebied het as vak.
In haar jare by Hoërskool Louis Trichardt het sy meer onlangs die pos beklee as adjunkhoof van die skool, netbal afgerig en was ook vir meer as 10 jaar betrokke by die provinsiale bestuur van meisieskrieket. Sy het ook Hoërskool Louis Trichardt se eie meisieskrieketspan help stig, wat oor die jare van krag tot krag gegaan het.
Hoërskool Louis Trichardt het ‘n vloedgolf van huldeblyke ingesamel op die skool se Facebook-blad in die weke voor Elsa se aftrede. Al die boodskappe is uitgedruk en in ‘n boek gebind. Dit was ‘n pragtige getuienis van die diep spore wat Elsa as onderwyser en mentor getrap het by die skool. Van die baie inskrywings op die skool se blad lees:
“Die kwaaiste ‘niceste’ juffrou wat so 'n ongelooflike impak op my lewe en loopbaan gehad het. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek steeds elke dag aan juffrou dink wanneer ek my werk doen. Juffrou het vir my 'n passie gegee vir Rekeningkunde wat ek steeds tot vandag toe saam my dra. Baie dankie daarvoor.” – Bonita (de Bruin) Lotter.
“Dankie vir die atletiek oefen, die rek klasse van std 6 tot in matriek en al die liefde vir my en Ilna Van Wyk Welman in ons tyd in die hoërskool. Rek was die enigste klas wat ek nooit geslip het nie en die enigste vak waarin ek altyd my huiswerk gedoen het. Juffrou het waarlik diep spore in ons lewens gelaat. Geniet die aftree en lekker rus.” - Ruan Welman.
“Wie sou kon dink dat juffrou nog eendag vir my kind sou skool hou...Die onderwys is beslis armer sonder juffrou KRIEK! BAIE dankie vir die toegewydheid en opofferinge! Geniet die welverdiende rus! Kom kuier maar so nou en dan vir Hoërskool Louis Trichardt.” – Erika Burger Ackerman.
“Juffrou Kriek (Retief) is die rede dat ek nie kan "kook" nie. So nou braai ons maar gereeld. Juffrou Kriek, dankie vir die goeie werk wat jy 1996-2000 gedoen het. Vandag is Rek nie net my brood en botter nie maar ook my braaivleis.” - Drikus Lee.
“Ek was in Juf Kriek se voog klas, Ek het al 1987 klaar gemaak met matriek, maar sal haar altyd onthou. Baie dankie vir goeie onthou tye. Mag die nuwe fase in juffrou se lewe net vreugde, vrede, liefde en voorspoed inhou.” – Linda van den Berg-Naude.
“Juffrou Kriek het my geleer wat debiet en krediet is...vandag die belangrikste twee woorde in my beroep! Die fondament wat sy vir my gebou het gehelp om my vandag as ń trotse CA (SA) RA agter my naam te hê en ook deel te wees van die grootste instansie in Suid-Afrika! Dankie Juffrou Kriek, baie seën en geluk vorentoe!” – Jannie Brink.
“Elsa as iemand na 33 jaar 'n instansie verlaat, laat dit 'n leemte. Almal sê enige persoon is vervangbaar, maar as dit die instansie se karakter gaan verander is die persoon onvervangbaar soos jy. Jy was vir elke leerling 'n inspirasie, in die klas en op die sportgronde. Jy was ook vir my en baie ander onderwysers 'n rolmodel. Elsa ek gun jou die rus by die see maar gaan jou geselskap en raad baie mis.” – Theo Muller.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
