ADVERTISEMENT:

 

Nobert Mhlanga (29) word onder andere daarvan beskuldig dat hy op 31 Desember mnr. Chris Ferreira (76) en sy gesin in hulle huis op ‘n kleinhoewe in Sparrowstraat aangeval het. Hierdie foto is destyds geneem deur lede van die Soutpansberg Dorpswag. 

Verdagte wat met boeie ontsnap weer vasgetrek

 

News  Date: 28 March 2016

 

‘n Vermeende inbreker wat einde verlede jaar ontsnap het uit polisie-aanhouding is weer aangekeer.

Die verdagte, wat intussen geïdentifiseer is as Nobert Mhlanga (29), word onder andere daarvan beskuldig dat hy op 31 Desember mnr. Chris Ferreira (76) en sy gesin in hulle huis, op ‘n kleinhoewe in Sparrowstraat, aangeval het.

Oom Chris en sy seun, Theuns, het die inbreker in hulle huis op heterdaad betrap. Die inbreker, het Oom Chris destyds aan die Zoutpansberger gesê, het hom in die gesig probeer steek met sy eie visstokke. Hy en Theuns kon daarin slaag om die inbreker te oorrompel met ‘n piksteel, en het hom vasgebind totdat lede van die Makhado Polisie kon opdaag. Terwyl die polisie egter besig was om die inbreker te ondervra, het hy opgespring en weggehardloop met boeie en al.

Mhlanga is verlede Donderdag (17de) deur die Makhado Polisie in Tshikota aangekeer. Hy het homself glo teëgesit en een van die polisiebeamptes probeer byt aan die hand.

Die Makhado Polisie het met Mhlanga se arrestasie bevestig dat hulle die moontlikheid ondersoek dat Mhlanga verbind kan word met nog ander inbrake in en rondom Louis Trichardt, waartydens hy glo ook vuurwapens gesteel het.

Mhlanga het die afgelope Dinsdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van huisbraak. Hy het egter nie alleen verskyn nie, maar wel saam met ‘n tweede verdagte, James Simango (35), sy broer.

Al twee mans se saak is uitgestel tot 29 April, waarna hulle na verwagting ‘n borgaansoek sal bring.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines