

ADVERTISEMENT:

Wat is nou lekkerder as om in die reën te kan baljaar? Die vierjarige Wyne du Toit (links) en die vyfjarige Edward Naudé (regs) het Dinsdag vir Marainette Truter (3) gewys hoe mens rondplas in waterdammetjies. Hulle al drie is maats by die Blinksoldaatjie Kleuterskool van Louis Trichardt. Dinsdag was 'n besonderse nat oggend in Louis Trichardt, nadat dit Maandag amper dwarsdeur die nag gereën het.
News Date: 28 March 2016
Voorwaar glimlag almal oor die goeie reën oor die streek die afgelope paar weke, en niks wys haar dankbaarheid beter as Moeder Natuur nie. Die Soutpansberg is weer ‘n groen lushof en mens wil amper glo die droogte is gebreek, maar dit is nie die geval nie.
“In hierdie stadium lyk dit baie mooi en in Levubu is ons besig om vinnig op te vang [wat oeste betref],” het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Stephen Hoffman, Dinsdag gesê. Die huidige warm toestande is ook gunstig vir plantegroei, maar hierdie gunstige toestande gaan afneem namate die winterkoue naderkom, het Hoffman gesê.
Alhoewel dit mooi groen is tans, het Hoffman gewaarsku dat die droogtetoestande van die afgelope paar maande nog nie gebreek is nie. “Dit is egter glad nie ‘n hartseer situasie nie. Ons is dankbaar vir dit wat ons gekry het. Die situasie kon baie erger gewees het, en die onlangse reën het baie verligting gebring,” het hy bygevoeg.
Hoffman het verduidelik en gesê die grootste probleem is dat die reën baie wisselvallig oor die streek uitgesak het. “Ons jaarlikse gemiddelde reënval vir Levubu is so 950 mm per jaar. Tot op hede het ek nog nie eers 400 mm gemeet nie. Ons is dus nog onder 50% van ons gemiddelde jaarlikse reënval,” het Hoffman gesê. Tog, het hy bygevoeg, het ‘n vriend van hom wat naby Musina boer al drie keer hierdie jaar meer as 100 mm op sy plaas gemeet. “Hy is weer sy jaarlikse gemiddeld verby.”
Hy het die situasie as ‘n tipiese droogte reëntoestand beskryf. “Sommige mense het bo-gemiddeld reën ontvang, terwyl ander weer onder-gemiddeld reën gekry het.” Dele van die Soutpansberg wat nog erg droog is, is byvoorbeeld die Waterpoort-omgewing. Hier het nog weinig goeie reën geval.
Hoffman het gesê dat alhoewel dit tans bogronds goed lyk, is hy veral bekommerd oor die ondergrondse watertafels waaorvoor boorgate vir besproeiing staatmaak. “In die algemeen het boere se boorgate steeds min of geen water,” het Hoffman gesê. Hy het verduidelik dat dit soos ‘n spons is wat met water natgegooi word. Die spons (grond bokant die ondergrondse watertafels) absorbeer die water en eers wanneer dit ‘n versadigingspunt bereik, loop die water onder die spons uit. “Ons het harde, deurdringende reën nodig. Ons spons is nog nie nat genoeg nie,” het Hoffman gesê.
Buiten dat nog baie reën nodig is in die streek, het Hoffman gesê hulle sit ook nog met die nadraai van die uitermatig hoë en langdurige temperature vroeër vanjaar, asook die haelskade wat oeste die afgelope paar maande opgedoen het. “Ons produkte is minder en kleiner. Met die neute kry ek die indruk die vrug is kleiner – waarskynlik oor die uitermatige temperature,” het Hoffman gesê. Verbruikers ervaar reeds ‘n styging in groente- en vrugtepryse, veral vanweë die landswye droogte, en die situasie blyk nie vinnig te herstel nie.
“Ons is egter dankbaar vir die reën. Dit plaas ons in ‘n goeie posisie vir volgende jaar. As dit egter nie nou gereën het nie, sou daar ‘n bitterlike geween gewees het,” het Hoffman gesê. Te midde van die reën het die situasie het nog nie genormaliseer nie.
Die wisselvalligheid van die reën waarvan Hoffman gepraat het is beaam deur statistiek van die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Hul voorlopige reënvalstatistiek vir Limpopo vir Februarie wys dat Levubu 73% (131 mm) van sy gemiddelde reënval van 180 mm ontvang het, wat nie te sleg is nie. Aan die ander kant van die spektrum is daar by Pontdrif slegs 2 mm reën gemeet, wat maar ‘n skamele 5% van hulle gemiddelde reënval van 42 mm is. Waterpoort het vir Februarie slegs 24 mm gemeet, oftewel 43% van hulle gemiddelde 55 mm. Dan was daar ook die uitstygers soos Tom Burke, wat 93 mm in Februarie gemeet het, oftewel 145% van hulle gemiddeld van 64 mm.
Bietjie reën is egter beter as geen reën nie. Ander reënvalsyfers vir die streek vir Februarie sluit in Alldays (44 mm), Elim (5 mm), Giyani (88 mm), Mara (29 mm), Punda Maria (19 mm), Thohoyandou (57 mm), Tzaneen (63 mm) en Venetia Myn (42 mm). Alhoewel die reënvalsyfer vir Februarie nie vir Louis Trichardt gegee word nie, rapporteer inwoners syfers van tussen 80 mm en 90 mm vir die maand na een of twee goeie buie. Maart blyk reeds meer nat te wees vir Louis Trichardt, met inwoners wat sê hulle het teen Dinsdagoggend al bykans 90 mm uit hul reënmeters gegooi.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
