

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 31 March 2016
Twee mans se lus vir vrugte het hulle in groot moeilikheid laat beland.
Phathutshedza Tshisudi (24) en Gift Moyo (44) van Zimbabwe is in Desember verlede jaar deur lede van die Makhado SAPD met 15 sakke lietjies in hulle besit betrap. Die waarde van die lietjies is op die twee se klagstaat aangedui as R5 000. Hulle kon nie vir die polisie sê waar hulle die lietjies gekry het nie.
Albei die mans het Woensdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van diefstal. Hulle het, ná maande wat die saak voortgesleep het terwyl hulle aansoek gedoen het vir regshulp, skuldig gepleit op die klagte teen hulle.
Albei het gesê hulle het tot die besef gekom dat wat hulle gedoen het verkeerd was.
Landdros Bennie Smith het die mans goed oor die kole gehaal voor hy hulle gevonnis het. Hy het gesê dat as elke Jan Rap en sy maat besluit om elke aand hulself te gaan help aan iemand anders se oeste, daar niks sou oorbly vir boere om van te oorleef nie. “Hulle moet boet vir wat hulle gedoen het. Landbou is vir baie ‘n inkomste in hierdie area. Dit is nie moontlik vir ‘n boer om elke liewe boom op te pas nie, en dan kom mense soos julle en steel in die aand wanneer dit maklik is om weg te kom,” het Smith gesê.
Smith het Tshisudi en Moyo elk gevonnis tot ses maande gevangenisstraf of ‘n boete van R3 000. Hy het bygevoeg dat hy in ag geneem het dat hulle eerste oortreders is, en daarom besluit het om die vonnis met die helfte op te skort vir ‘n tydperk vir vyf jaar. “Hulle moet twee keer dink voordat hulle weer iets steel,” het Smith gesê.
Dit beteken dat Tshisudi en Moyo effektief gevonnis is tot drie maande tronkstraf of ‘n boete van R1 500 elk.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
