ADVERTISEMENT:

 

Oom Koos en sy bruid van 70 jaar, tannie Molly, afgeneem op hulle huweliksherdenking verlede Woensdag, 23 Maart.

Liefde blom steeds ná 70 jaar

 

News  Date: 31 March 2016

 

Die groot liefdesverhale van die lewe word nie net gevind op die silwerdoek of in boeke nie – partykeer loop mens dit raak in jou eie dorp.

Só ‘n verhaal is dié van oom Koos (95) en tannie Molly van der Merwe (88) van Louis Trichardt.  Die egpaar het verlede Woensdag, 23 Maart, hul 70ste huweliksherdenking gevier.

Hulle het as gesin saam met al hul kinders- en kleinkinders dié mylpaal gevier, ‘n week vantevore met oom Koos se 95ste verjaarsdag. Die reuke wat uit die oom en tannie se kombuis gekom het verlede Woensdag, toe die koerant ingeloer het vir ‘n foto, was egter ‘n geur(ige) aanduiding van die spesiale viering van hulle huweliksdag.

Oom Koos en tannie Molly se paadjies het lang, lang jare gelede gekruis toe motorkarre nog yl gesaai was in die Soutpansberg en hy moes fietstrap om te gaan vlerksleep by die tannie op die plaas.

Dit was pas na oom Koos se terugkeer uit Afrika, waar hy onder andere in die veldslag van Tobruk (Egipte) ‘n soldaat was tydens die Tweede Wêreldoorlog gedurende 1945.

Hy het tannie Molly – toe ‘n nooi De Clerq – ontmoet tydens ‘n familie opskop op die De Clerqs se Bosveldplaas in die Mopani-omgewing.  Hy het darem toe alreeds die familie geken, nadat hy ‘n paar jaar saam met tannie Molly se ouer suster klas geloop het by die ou plaasskooltjie op Schoemansdal.

Dit was nie lank hierna nie, toe oom Koos ouers gevra het. Hulle het die knoop deurgehaak in die Geloftekerk (NG Kerk Moedergemeente) in Louis Trichardt op 23 Maart 1946.

Dit was ‘n dubbeldoor-seremonie, behartig deur ds. Van der Schoor wat ook oom Koos se ouer broer, Ludwig, en sy bruid, Hettie, getrou het.

Oom Koos en die tannie het hulle hier in Louis Trichardt gevestig vir die eerste jare van hulle huwelik. Só het hulle gesien hoe die streek uitbrei en Louis Trichardt die dorpie groter en groter word.

Hulle onthou byvoorbeeld hoe hulle nog met donkie- en perdekarre oor die weg moes kom toe hulle kinders was, toe die trein en nog ‘n paar jaar later die aankoms van voertuie in die Soutpansberg.

Terwyl tannie Molly huisgehou het en na die egpaar se drie dogters omgesien het, het oom Koos gewerk vir die destydse Departement van Gesondheid se malariabeheerkantore. Sy werk het hom orals deur die streek geneem, en die gesin het ‘n paar jaar in Tzaneen gewoon.

Oom Koos het ook vir ‘n paar jaar die malariawerk vaarwel geroep en vir die kopermyn in Messina gewerk. Dié bedryf het egter gevou, vertel oom Koos, en toe die gesondheidsdepartement hom terugvra het hy sy ou werk aanvaar. Altesaam het oom Koos meer as 33 jaar vir die departement gewerk, tot hy afgetree het in 1986.

Al die jare het elkeen sy eie sak sout opgelewer, wat hulle hand aan hand saam opgeëet het. Hulle skryf die sukses van hul huwelik toe aan die feit dat hulle die goeie en slegte tye, soos dit gekom het, saam aangepak het.

“Maar,” voeg tannie Molly by, “die Here het ons besonders geseën en dit is deur Sy genade alleen dat ons vandag nog saam is.” 

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines